Dit het uitgekom terwyl Prince (16) op Woensdag 26 Junie getuig het in sy familie se saak teen die konsertpromotors AEG Live ná Michael Jackson se onregmatige dood in 2009. Prince het vertel Michael se dood het Paris (15), wat onlangs haar lewe probeer neem het, die hardste getref: “Sy was my pa se prinses. Sy hanteer beslis sy dood op haar eie manier.” Die Thriller-sanger se oudste kind het ook vertel van sy pa se laaste oomblik. Michael is by hul herehuis in Holmby Hills, Los Angeles, dood nadat hy ’n dodelike dosis propofol ingekry het. Hy het gesê al wat hy, sy suster en hul broer, Blanket (11), kon doen, was huil. Volgens TMZ.com het hy vertel hy was in die sitkamer toe dr. Conrad Murray hom na die boonste verdieping laat roep. Prince het gesê hy het Paris hoor skree sy “wil haar pappa hê” en het sy pa “half van die bed af sien hang” terwyl Murray hom probeer bybring het. Hy het gesê Murray het toe gesê: “Jammer, kinders. Pa is dood.” Murray is later aan manslag skuldig bevind vir sy rol in Michael se dood. Die tiener het ook vir die jurie gesê sy pa was oortuig die 50 optredes vir sy This Is It-konsert in die O2 Arena in Londen sou sy lewe eis. Michael is tydens die voorbereiding daarvoor dood. Die Jackson-familie dagvaar AEG Live omdat hulle dr. Conrad Murray aangestel het sonder om hom behoorlik te ondersoek.