Die pop-ikoon, Michael Jackson, se dogter, Paris, het Woensdagoggend probeer selfmoord pleeg.

Paris, 15 was glo buite haarself toe sy nie toegelaat is om ‘n optrede van Marilyn Manson, ‘n goth rock-ster, by te woon nie.

Volgens berigte het Paris begin skree op ‘n familielid wie geweier het dat sy die konsert bywoon. Sy het haarself toe in haar slaapkamer in haar huis in Calabasas, Kalifonrnië, toegesluit. Sy het haar een arm gesny nadat sy ‘n selfmoordbrief geskryf het en ‘n hulplyn gebel het.

Paris se ma, Debbie Rowe, het die selfmoordpoging bevesting en gesê haar dogter gaan tans deur ‘n moeilike tyd.

Die poniekoerant, The Sun, berig onder meer dat Paris onlangs baie geboelie is, terwyl die beskuldigings dat haar pa moontlik kinders misbruik het, gerugte oor sy dwelmmisbruik en die bewerings dat hy dalk nie haar pa is nie haar tot breekpunt gebring het.

Paris sou ook moes getuig in die komende verhoor oor haar pa se dood.

Sy het ook onlangs op Twitter ‘n rits neerdrukkende boodskappe gestuur. Sy het onder meer gister getwiet: "Gister het my probleme gelyk asof dit iets van die verlede is, maar nou lyk dit of dit hier is om te bly."