Katherine Jackson sê dit gaan beter met haar kleindogter Paris, en sy “kry al die hulp wat sy nodig het”.

Die matriarg van die familie vermaaklikheidsterre sê Paris (15) herstel goed nadat sy in Junie haar lewe wou neem.

Die 83-jarige ster het aan die tydskrif Hello! gesê: “Dit gaan goed met haar, en sy kry al die hulp wat sy nodig het. Dit gaan baie beter met haar.

“Dit gaan werklik goed met die behandeling. Sy is my baba. Dis moeilik vir my, werklik moeilik. Ek wil net hê hierdie kinders moet gelukkig wees.”

Paris, die dogter van wyle Michael Jackson, woon terwyl sy herstel ’n terapeutiese privaat skool in Kalifornië by. Die skoolgeld beloop sowat R140 000 per maand.

Katherine, wat saam met haar kleinseun TJ die voogde is van Paris en haar broers, Prince (16) en Blanket (11), het bygevoeg dat Michael ’n “baie goeie pa” was, maar dat sy die kinders anders grootmaak as hy. Hy het hulle byvoorbeeld in die openbaar maskers oor hul monde laat dra.

Sy het ook gesê: “Terwyl Michael hulle grootgemaak het, was hulle baie beskerm. Ek het daaroor gedink en gesê ek gaan hulle nie so grootmaak nie. Maar Michael het ’n goeie rede gehad om dit te doen; hy het hulle probeer beskerm.”

Sy sê voorts dat dis aan Michael – wat in 2009 kort voor ’n reeks vertonings dood is aan ’n oordosis propofol – te danke dat sy kinders “ongelooflik goedgemanierd” is. “Hy het hulle goeie maniere geleer, maar dis natuurlik ’n ander generasie, en ek verstaan nie die hele sosialemediading nie. Hulle is altyd op hul fone.”