Paris Jackson (15) sal nie gedwing word om te getuig in die Jacksons se hofsaak teen die konsertpromotor AEG Live nie – en hul een prokureur hou vol die saak het nie bygedra tot haar onlangse selfdoodpoging nie.

Perry Sanders sê die hofstryd het nie daartoe gelei dat Paris verlede Woensdag by haar huis in Calabasa, Kalifornië, haar polse gesny en 20 Motrin-pynpille gedrink het nie. Dit kom te midde van gerugte dat sy bang was sy gaan moet getuig nadat sy in Maart ’n verklaring afgelê het.

“Niemand sal haar dwing om enigiets te doen nie,” het Perry, wat Paris se ouma Katherine verteenwoordig, aan People.com gesê. “Ek was daar toe sy haar verklaring afgelê het. Sy was selfversekerd. Die verklaring het goed afgeloop; Paris is ’n goeie en sterk mens.”

’n Bron na aan die tiener het daarop gewys dat die hofsaak, wat sewe weke gelede begin het, bygedra het tot haar depressie omdat dit haar aan haar pa se skielike dood aan ’n oordosis propofol in 2009 herinner. “Die hofsaak het die verlies weer na vore gebring,” het die bron gesê. “Sy volg elke woord daarvan en voel weer al die pyn.”

Die Jacksons se prokureurs wou nie kommentaar lewer oor of hulle Paris as ’n getuie gaan roep nie, maar Marvin Putnam, AEG Live se prokureur, sê die verdediging het nooit beplan om haar te vra om te getuig nie.

“Ons het nooit beplan om Paris as ’n getuie te roep nie. Dit was die klaer wat aangekondig het dat sy op hulle lys van getuies is. Hulle het selfs bevestig dat hulle haar kan roep.”

Die Jacksons dagvaar AEG Live omdat hulle dr. Conrad Murray gevra het om na Michael om te sien en nie hul huiswerk oor hom behoorlik gedoen het nie. Conrad is skuldig bevind aan manslag vir sy rol in Michael se dood.