Die 32-jarige erfgenaam en die 21-jarige model is al agt maande ’n paartjie en oënskynlik dolverlief.

Die sosiale vlinder meen hulle gaan beslis binnekort afhaak. “Dit kan binnekort gebeur,” het sy geantwoord toe sy oor haar trouplanne gevra is. “Ek vertrou hom met my lewe en dit beteken meer as enigiets anders vir my.”

Paris, wat voorheen verloof was aan die model Jason Shaw en die skeepserfgenaam Paris Latsis, het ook erken sy wil graag ’n gesin met River begin. “Ek kan nie wag om ’n klein Paris te hê nie,” het sy aan Daily Mirror gesê.

Die gewese werklikheidster het voorheen erken sy is klaar met die partytjieleefstyl, het “grootgeword” en kan skaars wag om saam met River nes te skop nie. “Ek bly uit die moeilikheid. Ek het grootgeword,” het sy onlangs gesê.

Gevra of sy reg is om met ’n gesin te begin, het sy laat hoor: “Ek dink dis elke vrou se droom. Ek dink om kinders en ’n gesin te hê, is waaroor die lewe gaan. Ek is dolverlief. Ek voel baie gelukkig dat ek hom ontmoet het. Hy is die gaafste, lojaalste man wat ek al ontmoet het. Hy behandel my soos ’n prinses. En hy is die mooiste man wat ek nog ooit gesien het.”