Paris Hilton vertrou mense nie meer nie en is bang sy word aangeval.

In 2008 het die Bling Ring-bende herhaaldelik by die sosiale vlinder se huis ingebreek en in Augustus 2010 het ’n bekruiper wat by haar huis probeer inkom het Paris met ’n mes gekonfronteer.

Paris (32) het nou erken sy is gedurig op die uitkyk vir ’n moontlike aanvaller. “Ek vrees dat iemand my van agter af of uit die skare bekruip,” het sy aan die koerant Sunday Times gesê.

Toe sy gevra word watter raad sy haar jonger self sou gee, het sy gesê: “Moenie so goedvertrouend wees nie. Daar is mense na aan jou wat jou sal gebruik. Ek vertrou nou niemand buiten my familie nie. Ek vermoed die ander soek iets by my.”

Al het die voorvalle die hotelerfgenaam, wat nou met die Spaanse model River Viiperi (21) uitgaan, kwaai ontsenu, weier sy om uit die huis te trek en het sy bloot haar sekuriteitmaatreëls verskerp.

Sy het gesê: “Ek haat dit om alleen daar te wees, maar ons het nou lasers en drukmat-alarms en voltydse gewapende wagte. En ek sal nie toelaat dat hierdie voorvalle my uit my huis dryf nie.”

Paris, wat in die vroeë 2000’s saam met Nicole Richie (31) op The Simple Life roem verwerf het, het ook die toestand van werklikheidstelevisie bekla en is bekommerd dat haar voormalige program moet die skuld gaan kry.

Paris is veral ontsteld oor Here Comes Honey Boo Boo, wat mense aanmoedig om vir die sewejarige deelnemer aan skoonheidskompetisies Alana “Honey Boo Boo” Thompson en haar gesin te lag.

Sy het gesê: “Daardie kind is op ’n aaklige plek met daardie familielede wat om haar na geld gryp. Ek voel sleg dat die vroeëre werklikheidstelevisieprogramme, waarvan ek deel was, in daardie grusame program ontaard het.”