Paris Hilton hou vol sy is ’n “taai sakevrou”.

Die 32-jarige gewese Simple Life-ster, wat met die 21-jarige model River Viiperi uitgaan, beweer sy het geen erg meer aan roem sedert Nathan Lee Parada in Augustus 2010 gewapen met ’n mes by haar huis in Los Angeles wou inbreek het nie. Sy wil nou in haar familie se voetspore volg en haar eie suksesvolle ketting hotelle open.

Die Hilton-hotel-erfgenaam het aan die koerant The Sun gesê: “Dit was vreesaanjaend. Ek het nooit so iets verwag nie en dit het my diep ontstel.

“Ek was seker hy sou my vermoor het as hy kon inkom.

“Om iemand met sulke haat in hul oë te sien, iemand wat jou wil doodmaak, laat jou dinge bevraagteken en dit het my oor die prys van roem laat wonder.

“Daar was toe baie chaos in my lewe. Ná die aanval het ek besluit dit was tyd om my aan die openbare oog te onttrek voor iets ergers gebeur.”

Paris se destydse kêrel, Cy Waits, het tydens die voorval tot haar redding gekom en die bekruiper is in April 2011 tot twee jaar tronkstraf vir inbraak gevonnis, maar nog ’n behepte aanhanger, James Rainford, het Paris toe geteister.

Sy het gesê: “Later kon ek nie meer alledaagse goed doen nie.

“Ek het die gevorderdste veiligheidstelsel in my huis laat installeer en ’n voltydse veiligheidspan aangestel.

“Ek het nie meer na klubs en partytjies gegaan nie en liewer op my sakebelange begin konsentreer.”

Paris, wat na ramiong R9,2 biljoen sterk is, wil nou graag haar partytjiemeisie-beeld afskud en haar ’n ketting hotelle vestig.

Sy sê: “Dit sal maklik wees om agteroor te sit en op my familie te teer, maar ek wil onafhanklik wees en my familie trots maak.

“Ek betree nou die hotelbedryf en dit voel na die volgende logiese stap. Ek was nog altyd geïnspireer deur my oupa en hoe hy hierdie reuse ryk uit niks opgebou het. Dis iets wat ek bewonder.”