Paris Hilton is opgewonde om haar loopbaan as popster voor te sit.

Die skatryk hotel-erfgenaam het in 2006 ’n enkelalbum, Stars Are Blind, uitgereik. In ’n poging om weer ’n popster te word, reik sy vandag (Dinsdag) ’n enkelsnit en video, Good Time, saam met die rapper Lil Wayne uit.

Paris was ook onlangs platejoggie by die Amnesia-nagklub in Ibiza. Sy het aan MTV News gesê: “Ek is mal daaroor om in die ateljee te wees. Musiek was nog altyd my groot passie. Om my nuwe enkelsnit saam met Lil Wayne uit te reik is so ’n eer. Ek is so opgewonde dat die wêreld dit gaan hoor.

“Ek werk nou sowat ’n jaar en ’n half aan die opname van hierdie album. Ek was so begeesterd nadat ek in Ibiza was. Ek het baie verstommende platejoggies en vervaardigers ontmoet. Mense het my gedurig nuwe liedjies gestuur. Ek is so trots op hierdie album.”

Die sosiale vlinder het ook verklap sy het ’n onwaarskynlike nuwe sakevennoot, die hoofbestuurder van Cash Money Records, Birdman. Hy het ’n ooreenkoms vir ’n album met haar aangegaan nadat sy vroeër vanjaar in sy musiekvideo Tapout verskyn het.

Paris het vertel: “Ons het mekaar ná die voltooiing van die video ontmoet. Ek het vir hom van sy liedjies gespeel en hy was mal daaroor en ons het ’n ooreenkoms aangegaan. Dis so opwindend. Ek werk graag saam met hom. Hy is slim en kreatief en inspirerend. Ek het respek vir wat hy as sakeman geskep het, en ek dink dis perfek om deel van die Cash Money-familie te wees.”

Van die res van die Cash Money-span, die rappers Lil Wayne, Drake en Nicki Minaj, het sy gesê: “Hulle is ondersteunend en wonderlik. Ek hou daarvan om saam met almal te werk. Almal is hardwerkend en passievol, en dis pret om saam met koel mense te werk wat ek respekteer.”