Paris Hilton beweer sy het geen geld met haar berugte seksvideo verdien nie.

Paris (32) was net 21 toe haar destydse kêrel, Rick Salomon, hulle verfilm het terwyl hulle intiem verkeer. Hy het die video laat uitlek nadat hulle hul verhouding verbreek het.

Red Light District het die inhoud later uitgereik as ’n volwasse DVD, 1 Night in Paris. Die ster het dit in 2004 laat onttrek.

Paris hou vol sy het nie ’n sent uit die video gekry nie.

Toe TMZ haar Maandag op die LAX-lughawe daaroor nader, het sy gesê: “Ek het nooit ’n dollar gemaak nie, nie een nie.

“Ek maak genoeg geld op goeie maniere; my reukwater maak genoeg, ek hoef my nie daaroor te bekommer nie.”

Die onthulling kom terwyl die ster haar stryd voortsit teen die Slowaakse webtuiste ParisHiltonPornVideos.com, wat geld maak uit die rolprent. Dis nou in die besit van Vivid.

Sy het bygevoeg: “Ek hou nie daarvan dat mense my naam gebruik om geld te maak nie, veral nie op so ’n vieslike manier nie; ek het geen idee (van die webtuiste) gehad tot ek daarvan op TMZ gelees het nie.”

Hoewel Paris sê sy het nie geld uit die video gemaak nie, het haar “medester” en “vervaardiger”, Rick, aan die belastinggaarder verklaar dit het hom in die eerste jaar R100 miljoen in die sak gebring.

Paris het in 2011 aan die geselsprogramaanbieder Piers Morgan gesê haar berugte video is een van die goed waaroor sy die spytste is.

Sy het gesê: “Dit was die verkleinerendste en vernederendste ding wat my al oorgekom het.”

Paris, wat van September 2012 af met River Viiperi uitgaan, het bygevoeg dis iets wat sy “nooit sal kan uitwis” nie.