Wat 'n vertoning en wat 'n terugkeer deur Marieke Vervoort! Terwyl sy reeds in 2008 die nodige dokumente onderteken het vir genadedood, het die inspirerende Marieke bekend gemaak dat sy dit gaan oorweeg wanneer sy meer slegte as goeie dae ervaar. Die die Paralimpiese Spele in Rio het die 37-jarige bo alle verwagting, hare inkluis, Vrydagaand 'n silwer medalje in die 400 m (T52) gewen. Haar volgende deelname is Vrydag, 16 September.

9 September 2016

Sy was net 21 jaar oud toe ’n seldsame siekte, degeneratiewe miëlopatie, haar in 2000 verlam gelaat het. Maar dit het haar nie daarvan weerhou om aktief te bly nie.

Rolstoel-mandjiebal, driekamp en deelname aan Hawaii se Ysterman-kompetisie in in 2007 het gevolg.

In 2008 het haar gesondheid soveel agteruitgegaan dat sy nie meer aan driekamp kon deelneem nie. Rolstoel-naellope was die volgende uitlaatklep vir die vrou met haar skynbaar onuitputlike bron van energie.

Sy het ook deelgeneem aan blokart-wedrenne, ’n driewiel en seil-kombinasie uit Nieu-Seeland.

Marieke, ook aan haar vriende bekend as Wielemie, het in 2012 aan die Londense Paralimpiese Spele deegeneem – haar eerste in die rolstoelafdeling.

Sy het ’n goue medalje in die 100 m (T52-klas) en ’n silwer in die 200 m ingepalm.

“Wanneer ek in my renstoel sit, verdwyn alles. Ek raak ontslae van al die donker gedagtes, ek veg teen vrees, hartseer, lyding en frustrasie. Dít is hoe ek goue medaljes wen,” skryf sy op haar webtuiste.

In 2012 is sy as 33-jarige ook as die Vlaamse Sportjuweel bekroon.

Kwalik ’n week later het die tennisspeler Kim Clijsters, self agt keer Sportvrou van die Jaar, nog ’n trofee aan haar oorhandig as België se Paralimpiese Atleet van die Jaar.

Beroepsportjoernaliste stem jaarliks vir moontlike kandidate. Marieke het ’n stewige 505 stemme ontvang, ’n volle 72 meer as haar naaste mededinger, die perderuiter Michèle George.

In 2013 is sy deur koning Filip en koningin Mathilde van België by die Koninklike Paleis in Brussel as lid van die Brusselse adelstand verwelkom. Belgiese adellikes en hul gesin word deur die koningshuis van België erken as lede van ’n groep wat erflike voorregte geniet en so van ander mense onderskei word.

Vlaandere het haar ook in 2015 met die “Vlaamse Reus”-toekenning vereer. Dit was die eerste keer dat ’n Paralimpiese atleet op dié wyse vereer is. By daardie geleentheid het sy aangekondig sy is met haar derde terugkeer besig.

Maar sy het toe reeds vertel van die struikelblokke in haar pad na deelname aan die Paralimpiese Wêreldkampioenskapsbyeenkoms in Doha in Oktober 2015.

“In die aanloop tot die wêreldkampioenskapsbyeenkoms het ek al hoe meer aanvalle begin kry. As gevolg van die uiterste pyn in my liggaam is ek snags baie wakker,” het sy die sluier gelig oor haar daaglikse stryd.

Tog het sy op 23 Oktober goud in die 200 m (T52) verwerf.

“Dit is dalk nie onregverdig dat mense na my verwys as die “beast from Diest” nie. Ek het geweldige deursettingsvermoë, maar soms skiet jy tekort wat jouself betref.”

Marieke het op haar Facebook-blad haar verstomming uitgespreek dat die media vergeet het dat sy tydens hierdie byeenkoms nie net twee goue medaljes gewen het nie, maar drie . . . en dít boonop met ’n kampioenskapsrekord.

Intussen is sy ook betrokke by ’n liefdadigheidsorganisasie vir kinders met brandwonde in Neder-Over-Heembeek. Daar is selfs ’n spesiale liedjie wat aan die innemende atleet opgedra is. Haar betrokkenheid spruit voort uit haar eie ernstige brandwonde wat sy opgedoen het toe ’n kokende pot pasta oor haar uitgeval het.

“Ek kan nie onthou wat gebeur het nie, want ek het my bewussyn verloor. Toe ek tot my sinne kom, was daar pasta oor my hele liggaam. Ek het paniekerig geraak en toe begin die verskriklike pyn,” vertel sy oor wat sy as ’n nagmerrie-ondervinding in 2014 beskryf het.

Toe ’n emosionele Marieke in 2015 weer as België se Paralimpiese Atleet van die Jaar aangewys is, is sy vir haar ysere wil en karakter geloof. Saam met haar het haar immerteenwoordige hulphond, Zenn, die verhoog bestyg vir die oorhandiging, en die trane het gevloei.

“Ek het nooit gedink ek sou ooit weer die kruin bereik nie,” het Marieke huilend erken. Selfs haar dokters het in 2013 reeds geglo sy sou nooit weer die hoogste sport bereik nie. In daardie selfde jaar het sy drie rekords gebreek.

Sy bedank almal wat haar so goed ondersteun. “Ek is ’n ryk mens danksy hul steun en die feit dat ek nog kan deelneem. Dit is hoekom ek nog hier sit. Sport is my grootste uitlaatklep.”

Terselfdertyd noem sy ook dat haar jaar nie “vlekkeloos” verloop het nie. Sy sê sy ervaar nie eens vyf goeie dae in ’n ry nie.

“Jy moet ’n kat ’n kat noem; ek gaan agteruit.”

En dat dit weliswaar die geval is, blyk duidelik uit haar dagboekinskrywings op haar webtuiste. Dit spreek van ’n voortdurende wipplankryery tussen slapelose nagte, nou en dan ’n beter dag (maar al hoe minder van hulle) en die verloorstryd teen die oorweldigende pyn wat haar teister.

17 Julie 2016

“Gisternag het ek gelukkig ’n beter nag gehad, hoewel ek ’n krisisoomblik van sowat 45 minute gehad het. Ek voel vanoggend asof ek weer net een uur geslaap het, maar dit is nie die geval nie.

“Ek het die verpleegster my vanoggend ’n morfieninspuiting laat gee en gaan na die oefening bloot omdat dit my aard is.”

22 Julie 2016

“Man, man, die nag was weer mega-sleg! Dis nie reg om in soveel pyn te lê en nie te kan slaap nie. Ek het die rus nou immers meer nodig as enigiets anders tussen die harde oefening deur.”

Marieke verloor ook gereeld haar bewussyn tuis. En dit is waar Zenn, haar hulphond, nie net ’n geliefde troeteldier is nie. Hy help haar om weer by te kom deur aan haar gesig te lek.

[caption id="attachment_136222" align="aligncenter" width="600"]Foto: Facebook. Foto: Facebook.[/caption]

Die moedige vrou met verskeie goue medaljes, Europese rekords en ’n wêreldkampioenskap agter haar naam is nou uitgemergel deur haar liggaam wat haar in die steek laat. Sy is besig om daardie stryd, die een teen die dood, te verloor.

“Ná Rio gaan ek my sportloopbaan staak. Ek wil sien wat die lewe my bied en probeer om die beste oomblikke geniet. Ek het ’n emmerlys wat toertjievlugte insluit, maar begin ook aan genadedood dink.”

Marieke sal na verwagting haar deelname in Rio Vrydagaand met die 400 m (T52) begin. Sy sal haar 100 m-titel volgende Vrydag verdedig.

Genadedood is reeds sedert 2002 wettig in België. Al wat nodig is, is die skriftelike toestemming daartoe deur drie dokters.

Bronne: sportskeeda.com, huffingtonpost.com, sport.be, news.com.au, hin.be