Dit het behoorlik geroer in die Port Elizabeth-hof oor Costa Panayiotou wat glo niks met sy seun, Christopher, te doen wou hê nie.

Ao. Leon Eksteen het getuig Costa wou sy seun “afskryf”. Hy het glo vermoed sy seun het ’n verhouding met iemand en wou by Leon weet wie saam met Christopher Oos-Londen toe is. Leon het Costa se vermoede bevestig en aan hom genoem Chanelle Coutts is saam met sy seun. Costa was glo woedend en het gesê hy gaan sy seun “afskryf”.
Volgens Leon het Costa nie net vir Christopher vermy nadat hy van die verhouding uitgevind het nie; hy het ook die OK waar Christopher gewerk het, vermy. Adv. Terry Price, Panayiotou se regsverteenwoordiger, en Leon het geruime tyd bestee aan die woorde “onterf” en “afskryf”. Terry sê hoewel Leon nie die woord “onterf” in sy verduideliking gebruik het nie, het die staat dit as ’n deel van die motief vir Jayde se moord aangebied.
Terry het ook aan Leon genoem dat Costa ’n verklaring afgelê het waarin hy ontken het die gesprek het ooit tussen hulle plaasgevind en dat hy nie ’n testament het nie en dus nie sy seun kon onterf nie.

Leon het voet by stuk gehou dat die gesprek wel plaasgevind het en hy het volstaan by sy verklaring. ’n Geheime opname Terry het aan Leon gevra of hy enige foto’s van Jayde se liggaam aan Luthando Siyoni, die vermeende middelman, gewys het. Hy het dit ontken. In reaksie daarop het Terry ’n klankopname gespeel waartydens Leon sonder sy medewete opgeneem is tydens ’n gesprek met Costa Panayiotou en ander.

Hy het gevra of Leon sy eie stem herken. Hy het ’n stuk gespeel waar gehoor kan word hoe Leon sê hy plaas foto’s een vir een voor Luthando. Weer het Leon ontken dat hy die foto’s voor Luthando geplaas het omdat hy nie toegang tot die foto’s gehad het nie. Terry het Leon gekonfronteer dat hy vir Costa vertel het Luthando is rof behandel deur die polisie.
Die staatsaanklaer, Marius Stander, het beswaar aangeteken. Volgens die transkripsie het Leon gesê: “Ons het hom nie gem**r nie, miskien het ander hom ’n bietjie rof hanteer.” Die kwaadwillige polisieman Terry het aan Leon gesê dat hy ’n “berugte kwaadwillige” polisieman is. En dat hy hom sal wys hoekom hy dit sê.
Terry het ’n volgende transkripsie gewys oor ’n geheime klankopname wat in die Panayiotous se huis gemaak is. Daarvolgens het Leon aan die familie gesê dat Chris nie in die spreekwoordelike lokval gelei sou word nie.

Terry het aan die hof voorgelees: “Ek weet julle dink dit was ’n set up, maar dis nie die geval nie. Hy was nie.”

Leon het voorts aan die familie gesê Luthando beweer Christopher was by Jayde se moord betrokke.

Bykomende bronne: news24.com, enca.com