In die opname kan gehoor word hoe ao. Leon Eksteen en die huisvriend, Phillip Vosloo, oor ’n ernstige bakleiery tussen pa en seun praat nadat Costa van Christopher se verhouding met Chanelle Coutts uitgevind het.

Daar kan gehoor word dat Phillip sê: “Costa was meer besorg oor die verlies aan geld as oor Christopher se rampokkery.” Phillip verwys ook na gereelde rusies tussen pa en seun oor die onderneming en hoe Christopher dit hanteer het. Lees ook: Hof hoor oor Panayiotou-moord: Verskeie oproepe na die bank, ’n verkeerde foto en die man wat weggehardloop het
Was Christopher ’n onwillige bruidegom? Wat ook uit die klankopname na vore gekom het, is die bewering dat Costa vir Christopher gedwing het om met Jayde te trou, iets wat deur adv. Terry Price as hoorsê en ’n grap uitgemaak word.
Costa was ook glo ontevrede dat Christopher en Jayde ná hul verlowing saam ingetrek het. Hy was glo nie baie geneë met die saamblyery nie.

Regter Dayalin Chetty aanvaar die akkuraatheid van die transkripsie wat aan die hof voorgelê is. Uit die klankopname blyk dit dat Phillip vir Chanelle as onderdanig beskou het terwyl Jayde hardkoppig was, iets waaroor Christopher glo aanstoot geneem het. Leon sê haar hardkoppigheid het skynbaar vir Christopher gegrief. In hierdie stadium het Jayde se ma, Michelle Inggs, in die hof begin huil. Volgens Phillip was dit glo een van Christopher se ambisies om sy pa uit die onderneming “te werk”.

Terry het nie gehuiwer om gereeld protes aan te teken terwyl die klankopname in die hof bespreek is nie.