Mawonga Ndedwa, ’n voormalige werknemer van die OK Grocer in Algoapark, het Donderdag in die Port Elizabeth-hof in die moordsaak teen Christopher Panayiotou en sy medebeskuldiges getuig.

Mawonga het onder meer getuig oor geld wat sowat ’nweek voor Jayde Panayiotou se verdwyning by die OK Grocer gevind is. Volgens sy getuienis het hy ’nsak met geld in die pakkamer gesien toe hy sy gereedskap gaan haal.

’n Sak vol geld “Ek het ’n klomp geld in die sak gesien,” het hy gesê. Mawonga, Christopher en die bestuurders, onder wie Chanelle Coutts, het toegang gehad tot die pakkamer.

Die volgende dag was die sak skoonveld. Christopher het dit glo verwyder.

Gesteelde whiskey

Mawonga is ná ’n dissiplinêre verhoor afgedank. Hy is betrap toe hy ’n bottel whisky steel; iets wat hy glo doelbewus gedoen het om afgedank te word.

Adv. Terry Price het egter aangevoer Mawonga het eers skuld erken toe hy die video van die diefstal sien. Daar word beweer dat hy minstens 11 bottels whisky gesteel het.

Mawonga het geantwoord hy wou nie sy werkloosheidsvoordele verloor nie en wou daarom nie bedank nie.

In Februarie 2016 is hy afgedank, en 12 dae later het hy ’n verklaring by die ondersoekbeampte lt. Kanna Swanepoel afgelê.

Vroeër vanoggend

Michelle du Preez van Standard Bank in die Baai getuig oor reëlings wat sy op 21 April 2015 moes tref om ’n bankkaart terug te kry wat deur ’n OTM “ingesluk” is.

Omdat sy nie aan diens was nie, het Anthony Simon dit namens haar gedoen. Hy het die kaart by ’n OTM in Njoli Square gekry, dit met ’n tang verwyder om nie daaraan te raak nie en dit weldra aan a.o. Bekker oorhandig. In daardie stadium was daar glo geen kameras by die betrokke OTM nie.

In 2012 is Mawonga tydelik aangestel, en in 2013 is dit na permanente diens omgeskakel. In 2016 is hy daar weg.

Hy het Christopher goed geken en hom na bewering gehelp om sy besigheid by Infinity op te bou. Hy het ook sy dobbelbesigheide in Cotswold en Grahamstad besoek. Mawonga het ook die beweerde middelman, Luthando Siyoni, geken.

Nadat Christopher in hegtenis geneem is, het sy ma, Fanoula, oorgeneem. Mawonga het nie ’n goeie sakeverhouding met haar gehad nie.

Geleende selfoon

Nadat hy ’n selfoonnommer in The Herald gesien het, het hy besef dis een wat hy gebruik. Volgens selfoonrekords is die betrokke nommer die laaste keer op 23 April 2015 gebruik. Hy het getuig Christopher het gereeld sy selfoon  geleen. Hy het dit glo sowat twee weke voor Jayde se verdwyning die eerste keer geleen.

Mawonga het getuig Christopher het hom R1 000 gegee en hom aangesê om van die selfoon afstand te doen en ’n nuwe een aan te skaf.

Toe hy wou weet hoekom, het Christopher glo geantwoord die polisie hom sal volg as hy nie ophou om die selfoon te gebruik nie.

Volgens Mawonga het Christopher sy selfoon se SIM-kaart vernietig.

Selfoonrekords van Mawonga se nommer toon verskeie oproepe van Luthando. Die eerste oproep van sy foon na Luthando is op 8 April 2015 gemaak. Mawonga het getuig hy self het geen rede gehad om Luthando te bel nie, want hulle was nie vriende nie.

Mawonga het ook gesê hy ken Donovan Vosloo. Dié het Christopher glo met rekenaarprobleme gehelp. Die staat beweer hy het Christopher se selfoon skoongevee het.

Mawonga het Fanoula glo van die selfoonsituasie vertel en gesê hy gaan die foon polisie toe vat.

“Sy was geskok. Sy  het my aangestaar en water gedrink,” het hy getuig. Daarna het Christopher se oom Anthony genader. “Hy het gesê ek gaan Chris in ’n gat sit.”

Bykomende bron: algoafm.co.za