Adv. Terry Price, vir die verdediging, het dié versoek Maandagmiddag ingedien nadat regter Chetty Maandagoggend beslis het dat ’n geheime opname – waarin Panayiotou van die moord op sy vrou geïmpliseer word – toegelaat sal word in die verhoor teen hom en sy twee medebeskuldigdes.

Price sê hulle glo hul kliënt, Panayiotou, wat van die moord op sy vrou, Jayde, aangekla is, kry nie ’n regverdige verhoor onder regter Chetty nie.

Price het aanvanklik aangedui dat daar aansoek gedoen is om die saak uit te stel omdat sy kliënt “lewenslange gevangenisstraf opgelê kan word” as die verhoor ’n verkeerde koers inslaan.

Chetty het egter ferm aangedui dat daarby volstaan sal word dat die saak van Maandag tot 30 Junie duur.

Price het Maandag onder meer in die hof gesê dat die regspan van meet af aan “op die agtervoet” was en ook dat daar getuienis is van inherente oneerlikheid deur die staat. Hy opper ook talle beledigings vanuit die galery en in die sosiale media en noem dat Chetty nooit tot sy redding gekom het nie.

Price se aansoek rondom Chetty sal Woensdag aangehoor word.

Die staatsaanklaer Marius Stander steun die uitstel van die saak tot Woensdag, maar om ander redes. Hy het verskeie getuies wat van elders na Port Elizabeth kom vir die hofsaak.