In die Port Elizabethse hooggeregshof het die beweerde middelman Dinsdag getuig Christopher Panayiotou het hom nooit ingelig hoekom hy sy vrou, Jayde Panayiotou, wou laat vermoor nie.

Luidens Luthando Siyoni se polisieverklaring wou Christopher hom nie self by die moord betrek nie, maar het hy versoek dat Luthando mense moet reël wat dit wel sal doen. Maar in die hof het hy baie van die inhoud van sy verklaring ontken.

In sy verklaring word daar genoem Sizwe Vumazonke, die vermeende moordenaar wat intussen oorlede is, het hom vertel dat hulle probleme ervaar het. Hulle het Jayde glo gereeld misgeloop terwyl sy vir vervoer gewag het. Jayde en haar beste vriendin en kollega, Cherise Swanepoel, het beurte gemaak met ritte na die skool en terug. Lees ook: Dis hoeveel Jayde Panayiotou se lewe glo gekos het Luthando het ook luidens sy verklaring geweet waar Jayde vir haar saamrygeleentheid sou wag. Christopher sou die plek in Desember 2014 aan hom uitgewys het.

Tydens die soektog na Jayde was Luthando luidens sy verklaring in die motor saam met Christopher en “ander wit mense” toe hulle na die OTM’e in Njoli gesoek het (vermoedelik waar Jayde se bankkaarte gebruik is). Luthando ontken dat hy in sy verklaring gesê het Christopher wou weet hoekom dit hom so lank neem om sy vrou dood te maak. Luthando sou glo dieselfde vraag aan Sizwe rig.
Luthando het die meeste van die inhoud van sy verklaring, wat hy op 28 April 2015 onderteken het, betwyfel. Kort voor die hof tot Woensdag gesluit het, sê hy dat die staatsaanklaer, Marius Stander, en ondersoekbeampte Kanna Swanepoel deurentyd sy verklaring aangepas het.

Hier is die verklaring wat Luthando op 28 April 2015 onderteken het.

Vroeër vandag

Dit was Luthando se derde dag in die getuiebank. Hy het getuig dat hy R50 000 (van die R80 000) aan Sizwe sou oorhandig. Laasgenoemde het glo nie eens die geld getel nie. Luthando sou R30 000 vir homself hou.
Luthando, ’n uitsmyter by die Infinity-nagklub, wat aan Christopher behoort het, het in die hof getuig die polisie het hom gedreig om te bieg. Hy hou nou vol speurder Willie Mayi het nooit sy regte aan hom verduidelik nie en hy het sy verklaring uit vrees onderteken.

Luthando het ook getuig dat hy hospitaal toe wou gaan nadat die polisie hom hardhandig behandel het. Hy het verwys na ’n geswelde gesig en ’n sny, maar op versoek van die staatsaanklaer kon hy eers nie onthou waar die sny was nie.

Lees ook: Hof hoor van ’n geleende selfoon, gesteelde whiskey en ’n sak vol geld

Weldra het hy egter gesê dat sy onderlip en linkeroog gesny was en dat sy oog opgeswel was. Hy het ook aangedui dat die polisie hom gemartel het en dat hulle dit herhaaldelik aan hom sou stel dat Chris hom versoek het om Sizwe te werf.

Ná ’n rit van vier uur van Uitenhage na Fort Beaufort se polisiestasie is Luthando glo nie toegelaat om sy prokureur tydens ondervraging teenwoordig te hê nie.

Hy het na bewering onveilig gevoel nadat daar aan hom gesê is hy sal na Uitenhage teruggeneem word. Daarom het hy glo die weergawe van die gebeure verskaf soos dit in die verklaring staan.

Bykomende bronne: news24.com, heraldlive.co.za