Die binneverhoor van die saak teen Christopher Panayiotou en sy twee medebeskuldigdes, Sinethemba Nenembe en Zolani Sibeko, wat onder meer aangekla word van ontvoering en moord, dien Vrydag in die Baaise hooggeregshof. Die kruisverhoor van kapt. Kanna Swanepoel is voortgesit. Kanna is die laaste getuie in die binneverhoor.  

Hy het aangedui dat die staatsgetuie Luthando Siyoni sy verklaring sonder enige dwang afgelê het. Nadat Luthando ’n staatsgetuie geword het, is sy verklaring nie gebruik nie.  

Kanna getuig dat Luthando nooit aan hom gesê het dat hy deur die polisie aangerand is nie.

Babalwa Breakfast, Luthando se meisie, se verklaring/s word volgende bespreek. Sy het twee afgelê wat deur Kanna met haar bespreek is. Daar is duidelike verskille in haar verklarings. In die eerste word verwys na ’n motor wat na die huis gekom het, maar geen melding daarvan word in haar tweede verklaring gemaak nie. Sy verwys ook na geld in ’n sak en later praat sy oor geld in die hand.  

Adv. Terry Price lê ’n oogtoets voor wat aandui dat Babalwe wettig blind verklaar is. Kanna se reaksie daarop is dat dit ’n dokument is waarvoor Terry sou betaal het. Hy sê Terry het ses kontaklense vir Babalwa gekoop en eers later versoek om ’n gesprek met haar te hê.  

Babalwa sou ook vir twee maande nie besoek by Luthando aflê nie. Kanna sê sy het bang geword toe mense by Luthando se plek opdaag, vermoedelik van OK Grocer, maar Babalwa was nie seker nie. Daarom het hy dit nie opgevolg nie. Kanna getuig dat enige gerugte oor ’n huurmoordenaar wat deur Christopher Panayiotou bekom sou word, komende van Luthando is. Terry stel dit aan hom dat dit hy, nie Luthando nie, sou wees wat die kwessie van ’n huurmoordenaar sou opper.  

  Terry sê die rede hoekom Luthando nie aangekla is nie, is dat die polisie Christopher wou hê – en hom nie gehad het nie.  

Kanna reageer deur te kenne te gee dat die kans goed sou wees om Luthando wel suksesvol te vervolg. Babalwa se verklaring het hom ook betrek. Hy sê ook dat die hof nie veel waarde kan heg aan wat Luthando sê nie omdat hy nie die waarheid praat nie.

Terry wys daarop dat Christopher enkele ure ná Jayde se begrafnis gebel is. Hy sê dat daar met sy emosies gespeel is.

Alhoewel Christopher tydens hierdie oproepe nie ’n aanduiding gegee het dat hy weet waaroor dit gaan nie, het hy ook nie vir Luthando gesê om hom uit te los nie. Die nommer waarop Christopher gebel is, is dié van ’n selfoon wat deur Donovan Vosloo aan hom gegee is. Volgens Terry sou Christopher daardie selfoon gebruik het omdat hy nie wou hê Luthando moet hom op sy persoonlike selfoon pla nie.  

 

Dan verskuif die fokus na Jayde.

“Jayde het nie in Christopher se prentjie gepas nie. Hy was meer saam met Chanelle Coutts en Clariska Kapp. Hy het Jayde kwalik gesien,” het Kanna getuig. Weer duik dit op dat Jayde glo vir Christopher “te veel gekos” het.  

Chanelle en Clariska sou ook so getuig. Maar die verklaring wat deur Chanelle by Kanna afgelê is, is nie onderteken nie. Kanna sê dit moes nog oorgetik word weens foute wat uitgewys is, maar Terry voer aan dat Chanelle dit nie wou onderteken nie omdat sy nie met alles in die verklaring tevrede was nie.

Terry noem ook aan Kanna dat hulle iemand sou stuur om gesprekke tussen Chanelle en Christopher in die gevangenis af te luister. Kanna sê albei was bewus daarvan dat hulle nie kon praat nie en dat die familie wat vandag in die hof is, dit ook weet.

Kanna dui aan dat Chanelle in die besoekersboek sou aanteken dat sy ’n ander moordbeskuldigde, Jens Leunberg, besoek. Volgens Terry help die familie hom en is sy eie familie in Duitsland.

Die hof verdaag tot Dinsdag.

Bronne: heraldlive.co.za, iol.co.za