Hy dien nog bewysstukke in vir opname in die hofrekords. Dit sluit selfoonrekords van die OK Grocer en landlynrekords van Jayde en Christopher in.

Peter Daubermann teken beswaar aan en versoek dat dit aangeteken word.

Die volgende getuie is ao. Shane Bosch van die polisie se georganiseerde misdaad-afdeling. Hy bevestig dat Vumazonke Sisiwe in Desember 2014 in aanhouding was nadat hy vir gewapende roof in hegtenis geneem is.

Hy is op 23 Januarie 2015 weer vrygelaat.

Bosch moes ook vasstel aan wie ’n bepaalde landlyn behoort het. Hy het by ’n motorhuuragentskap bereik toe hy die nommer gebel het.

Bosch moes nog ’n selfoonnommer kontroleer. Hy het voorgegee dat hy van ’n selfoonmaatskappy bel en dat die persoon wat wou antwoord, in ’n gelukkige trekking as deel van ’n kompetisie wat deur die maatskappy gehou is, opgeduik het.

Hy moes net ’n maklike vraag antwoord om R500 te wen.

Die persoon het homself as Zolani Sibeko identifiseer en sy adres verskaf. Hy was egter aanvanklik nie by die adres nie. Daar was slegs ’n bejaarde man.

Bosch sê hulle het Sibeko weldra in ’n aangrensende kamer gevind en sy regte is aan hom voorgelees. Daar was ’n Xhosa-sprekende dame, geklee in ’n  japon, wat besig was om ’n bed in die kamer op te maak.

Sy het probeer om die vertrek te verlaat. Sy het haar japon oopgemaak om te wys sy versteek niks van die polisie nie. Maar toe sien hulle die lig van ’n selfoonskerm wat in haar sak skyn. Die selfoon is gekonfiskeer en in ’n bewysstukhouer verseël.

Adv. Terry Price (vir Christopher Panayiotou) neem Bosch onder kruisverhoor. Hy beskryf weer die saak as ’n hinderlaag vir die verdediging. Die staatsaanklaer, Marius Stander, het Vrydag aangedui dat Swanepoel die volgende en laaste getuie sou wees. Die verdediging het ooreenkomstig voorberei.

Price vra of Stander vir Bosch voorgesê het wat om te sê en of hy dalk net ’n “wonderlike geheue” het. Bosch dui aan dat hy nie voorgesê is nie.

Peter Daubermann vra die hof om af te staan. Hy is ook nie gelukkig met die verassingsgetuie nie.

Op 21 April 2015 is Jayde Panayiotou,die gewilde 28-jarige onderwyseres van die Baai ontvoer. Haar lyk is 24 uur later in die bosse gevind. Haar man, Christopher Panayiotou, word van haar ontvoering en moord aangekla. Sy medebeskuldigdes is Sinethembe Nenembe en Zolani Sibeko.

Die hof verdaag tot Dinsdag, 09:30