Luthando, die beweerde middelman wat deur Christopher Panayiotou versoek is om ’n huurmoordenaar vir sy vrou, Jayde, te vind, het sy vierde dag in die getuiebank deurgebring. Hy wou nie erken dat hy die verklaring onderteken het wat aan die ondersoekbeampte Kanna Swanepoel gemaak is nie. Luthando het aangedui hy is onseker of dit sy handtekening is. Hy sê ook adv. Johan van der Spuy was nie teenwoordig toe die verklaring geneem is nie.

Hy het wel vrae beantwoord wat betrekking het op die geld wat deur Christopher aan hom gegee is en wat hy op sy beurt aan Sizwe Vumazonke sou oorhandig het. Die hof het Dinsdag gehoor Luthando sou R80 000 ontvang het, waarvan R50 000 aan Sizwe gegee is. Luthando het egter geweier om te reageer op enige van die vrae of stellings in verband met die verklaring.
Marius Stander, staatsaanklaer, wou by Luthando weet hoe hy en Christopher mekaar ontmoet het. Hy sou glo aan Kanna gesê het dat Christopher hom genader het oor geldmaak uit dwelms. Die spesifieke dwelm waarna verwys is, staan bekend as Mandy. Dit is ’n onsuiwer vorm van kokaïen en nie alombekend in Port Elizabeth nie. Dit verkoop na bewering teen R20 ’n kapsule, maar Luthando het gesukkel om dit te verkoop omdat dit ’n sterk dwelm is en hy self nie baie bekend in die dwelmbedryf was nie.
Die volgende onderneming waarmee Christopher glo vir Luthando sou nader, was om uit te vind of hy iemand ken wat ’n moord kan pleeg. Luthando sou iemand genaamd Lama van die woonbuurt Motherwell aan Christopher voorstel. Maar ná hul ontmoeting het Lama vir Luthando vermy.
Nog ’n kandidaat vir die moord was ene Trompie. Maar hy het net soos Lama reageer. “Christopher het toe meer druk op my uitgeoefen . . . Dis die eerste keer dat hy my vertel het die een wat hy dood wil hê, is sy vrou.”
Luidens Luthando se verklaring was die aanbod om Jayde te vermoor nou R40 000.
Sizwe wou glo ’n gehuurde motor gebruik om “die werk te doen”. Luthando sou daarop ’n motor, ’n klein wit Toyota, by Nthando’s Car Hire huur. Hiervoor sou Christopher R3 000 by die gimnasium aflaai. Christopher se plan was om Jayde vir Sondagaand-ete na die Infinity-nagklub te neem, waarna Sizwe haar sou volg omdat hy haar nie voor die klub kon doodmaak nie. Dit kon ook nie in die kompleks plaasvind waar die paartjie gebly het nie omdat daar ’n polisieman oorkant die pad gebly het.
Luthando se verklaring dui voorts daarop dat hy voor agtuur Dinsdagoggend ’n oproep van Sizwe ontvang het. Die “werk” was afgehandel en hy wou sy geld hê.
Teen die aand se kant het Christopher glo vir Luthando op Infinity se landlyn gebel. Hy wou weet waar die manne haar gesit het. “Ek kon nie antwoord nie.”

Skynbaar wou Sizwe meer geld hê en die boodskap is so deur Luthando aan Christopher oorgedra. “Chris het my aangesê om my simkaart en selfoon te vernietig. Ek het dit nie gedoen nie.”

Lees ook: Hof hoor van ’n geleende selfoon, gesteelde whisky en ’n sak vol geld

Op 20 Oktober 2016 het Mawonga Ndedwa, ’n voormalige werknemer van die OK Grocer in Algoapark, getuig Christopher het hom R1 000 gegee en hom aangesê om van die selfoon afstand te doen en ’n nuwe een aan te skaf. Christopher het glo gereeld sy selfoon vir ander oproepe gebruik en hom daarvoor vergoed.

Selfoonrekords van Mawonga se nommer toon verskeie oproepe van Luthando. Die eerste oproep van sy foon na Luthando is op 8 April 2015 gemaak. Mawonga het getuig hy self het geen rede gehad om Luthando te bel nie, want hulle was nie vriende nie.

Die saak gaan Donderdag voort.