Daubermann het aangevoer sy kliënte se name is tydens die verhoor skaars genoem en dat hy met sy duime sit en speel het.

Hy doen in terme van Afdeling 174 van die Kriminele Vervolgingswet 51 van 1977 aansoek vir die vroeë ontslag van sy kliënte, die vermeende huurmoordenaar Sinethemba Nemembe en vermeende samesweerder Zolani Sibeko.

Hy verwys na die Shrien Dewani-saak.

Volgens Daubermann is daar geen behoorlike getuienis teen sy kliënte waarvolgens hulle skuldig bevind kan word nie. Die onus berus by die staat om hul skuld bo alle redelike twyfel te bewys.

Daubermann voer aan dat die staatsaanklaer, Marius Stander, se saak teen sy kliënte op bespiegeling berus.

Hy sê voorts die staat het gesteun op Khusela Vadala, oftewel Khusta, se verklaring en die selfoonrekords. Daar is geen bewering dat Sibeko en Vumazonke ooreengekom het om Jayde Panayiotou te ontvoer en vermoor nie.

Hy opper ook die Glenn Agliotti-saak, waarin die hof bevind het daar is geen bewys van ’n sameswering nie.

Daubermann sê die getuienis voor die hof steun nie Sibeko en Nemembe se betrokkenheid by die moord nie en dat die staat sonder die selfoonrekords geen saak teen die twee het nie.

Hy voer aan regter Chetty se beslissing dat die selfoonrekords toelaatbaar is, het die verhoor in ’n onbillike een omskep. Hy beskryf die kaarte van waar die selfoontorings geleë is as betekenisloos.

Thereza Botha, data-deskundige, se mening dra volgens Daubermann ook geen gewig nie.

Hy takel die een ná die ander staatsgetuie wat oor die selfone, oproepe en torings getuig het. Selfs die selfoon wat ao. Shane Bosch in Sibeko se besit gekry het, beteken volgens Daubermann niks, want dis nooit volgens RICA-bepalings in Sibeko se naam geregistreer nie.

Bosch het volgens Daubermann ook nie enige ander vertrek in die huis deursoek op soek na ’n ander selfoon nie. “Daar kon nog een gewees het,” voer Daubermann aan.

Agtergrond

Op 21 April 2015 is Jayde Panayiotou, ’n gewilde 28-jarige onderwyseres van die Baai, ontvoer. Haar lyk word 24 uur later in die bosse gevind. Haar man, Christopher Panayiotou, word van haar ontvoering en moord aangekla. Sinethembe Nenembe en Zolani Sibeko word as sy medebeskuldigdes aangekla.

Shrien Dewani

Shrien Dewani was aangekla van sameswering om ontvoering, roof met verswarende omstandighede en die moord op sy vrou, Anni Hindocha.

In haar uitspraak het regter Janet Traverso op 8 Desember 2014 sy aansoek om ontslag in terme van Seksie 174 toegestaan.

Dit bepaal in kort: Sou die hof aan die einde van ’n verhoor beslis dat daar nie getuienis is dat die beskuldigde die oortreding begaan het nie, kan dit tot ’n uitspraak van onskuldig lei.

Dewani is onskuldig bevind en ontslaan.

Glenn Agliotti

Hy was onder meer aangekla van sameswering met Roger Brett Kebble, Clinton Ronald Nassif, Michael Donovan Schultz, Nigel McGurg, Faizel Smith en ander wat destyds aan die staat bekend was vir die moord op Mark Bristow, Jean Daniel Nortier, Mark Wellesley-Wood en Stephen Mildenhall.

Regter Frans Kgomo het op 25 November 2010 beslis die staat kon nie ’n prima facie-saak teen die beskuldigdes bewys nie. Prima facie beteken kortliks "gegrond op eerste indruk; aanvaar as korrek tot anders bewys kan word".

Weer is Afdeling 174 van krag,  en die beskuldigdes word onskuldig bevind en vrygelaat.

Ekstra bron: news24.com