In die video, wat opgeneem is enkele dae ná die moord op sy vrou, Jayde, voer hy ’n gesprek met die vermeende middelman, Luthando Siyoni.  

Met dié video nou aanvaar as ’n bewysstuk, het die klem Donderdagoggend na sy twee medebeskuldigdes verskuif.

Peter Daubermann het vandag in die hooggeregshof in Port Elizabeth sy ongelukkigheid te kenne gegee met van die bewysstukke waarop die staatsaanklaer, Marius Stander, steun.

Hy tree op vir die vermeende huurmoordenaar, Sinethemba Nemembe, en medesamesweerder Zolani Sibeko.

  

Volgens hom vorm selfoonrekords die oorwig van bewysstukke wat teen sy kliënte ingespan word.

Hy noem aan regter Dayalan Chetty dat die twee beskuldigdes nie die nodige toerusting het waarmee die selfoongesprekke aangedui word nie. Hulle kan dus nie enige van die inligting as onwaar bewys nie.

Stander sê die beskuldigdes word wel toegelaat om die data oor hul eie nommers onder oë te kry en van daar die inligting te verifieer.

Stander versoek die hof om nie die selfoonrekord-bewysstukke as ongrondwetlik te beskou nie.

Daubermann gaan voort deur te sê die omgekeerde onus berus by die beskuldigdes om te bewys die inligting is nie korrek nie.

Die hof verdaag. Chetty sal Maandagoggend halftien sy beslissing hieroor bekendmaak.