Hy is ongelukkig omdat sy familie hom net elke tweede week kan sien. So is getuig oor die “middelman” in die binneverhoor van die saak teen Christopher Panayiotou en sy twee medebeskuldigdes. Christopher, Sinethembe Nenembe en Zolani Sibeko word onder meer aangekla van ontvoering en moord. Die slagoffer was Jayde Panayiotou, Christopher se vrou. Landdros Esté Petzer is Maandagoggend geroep om te getuig oor die onderhandelinge wat sy gehad met Luthando Siyoni, die beweerde middelman.

Hy het geen ander klagtes geopper nie, maar het wel aan haar genoem dat sy “lekker ruik” en wou weet watter parfuum sy gebruik. Sy het daarop aan hom gesê dat hy hom van persoonlike opmerkings moet weerhou.
Landdros Thuliswa Bethela het ook Maandagoggend in die getuiebank verskyn. Volgens haar het sy en Luthando in isiXhosa gesels. Hy het aan haar genoem dat hy nie langer ’n beskuldigde is nie, maar wel ’n staatsgetuie.
Luthando het glo ophou eet omdat hy uit Humewood wou weggaan. Bethela het ook genoem dat sy enigste klagte die min kontak met sy familie was.
Effense verwarring het in die hof geheers toe landdros Bethela sê Luthando wou in ’n stadium nie meer ’n staatsgetuie wees nie, maar eerder ’n beskuldigde. KYK VIDEO: Christoper Panayiotou en sy medebeskuldigdes kom die hof binne Kapt. Kanna Swanepoel was volgende in die getuiebank. Hy is van die georganiseerde misdaad-eenheid.
Hy is drie dae na Jayde se moord as ondersoekbeampte van die saak aangestel en het Luthando vir die eerste keer op 28 April 2015 by die Valke se kantoor ontmoet.
Hy het getuig dat Luthando aan hom gesê het dat hy ’n verklaring afgelê het, maar dat hy nie in die spervuur wil kom weens iemand anders se dade nie. Hy het aan Luthando genoem dat dit nie so maklik is om ’n getuie in die saak te wees nie, veral omdat daar soveel getuienis is wat na sy kant toe wys. Dit was Luthando wat daarop aangedring het dat Christopher Panayiotou gebel moes word. Die nodige regsadvies is ingewin en hulle kon voortgaan met die oproep.
Kanna se amptelike polisieselfoon is gebruik om die oproep te maak, maar die oproep-idenfikasiefunksie was afgeskakel. Die oproep sou dus as “onbekend” op Christopher se selfoon registreer.

Ao. Leon Eksteen, ’n gesinsvriend, se selfoon is gebruik om die telefoniese gesprek mee op te neem. Lees ook: Panayiotou-verhoor – 'n Pa wat sy seun wou afskryf, geheime opnames en 'n ‘kwaadwillige’ polisieman Op die eerste dag is daar 13 oproepe gemaak en een SMS gestuur. Die oproepe is net ses keer beantwoord. Christopher het vyf van die oproepe beantwoord en Donovan Vosloo een. Tydens die bykans-nuttelose oproepe het Christopher aangedui dat hy nie tyd het om met Luthando te gesels nie.

Daar is ook getuig oor die SMS wat van Luthando se selfoon, wat deur die polisie gekonfiskeer is, na Christopher s’n gestuur is. Volgens Kanna is Luthando se selfoon ingespan omdat die ander oproepe geen vrug opgelewer het nie. Die boodskap suggereer dat Luthando vir Christopher “Boss” laat weet as hy in hegtenis geneem gaan word, gaan die polisie op Christopher se spoor kom. Kanna ontken dat hy self die SMS gestuur het – benewens die feit dat hy nooit die woord “boss” gebruik nie, is daar ook verskeie spelfoute wat hy nie sou maak nie.

Op 29 April 2015 om 10:14 het Luthando ’n oproep vanaf die OK Grocer, Christopher se besigheid, ontvang. Daar was verskeie oproepe vanaf daardie nommer wat hulle misgeloop het. Luthando is weer aangesê om Christopher te bel. Christopher het geantwoord en het sê hy is besig, maar sal later terugbel. Hy doen dit glo nie en Luthando stuur ‘n SMS om te vra hoekom hy nie terugbel nie. Luthando vra ook geld en sê hy kan nie vir Christopher by die OK Grocer ontmoet nie. Nog vier oproepe volg na Luthando se selfoon. Geen word beantwoord nie. Kanna het daarna gereël dat Luthando weer uit die tronk gehaal word om vermoedelik die oproepe te antwoord. Agt oproepe later wil Christopher van Luthando weet waar hulle bymekaar kan kom. Daar word ooreengekom om mekaar by die Engen-vulstasie in Algoapark te ontmoet.

Nadat Kanna na die videomateriaal van die ontmoeting tussen Luthando en Christopher gekyk het, gaan hulle na Christopher se ouerhuis.

Daar was glo verskeie mense by die huis toe Eksteen ingegaan het om Christopher te gaan haal. Sy pa, Costa, het eerste uitgekom en nadat Kanna aan hom die doel van hul besoek verduidelik het, het hy sy seun gaan haal. “Ek het my voorgestel en aan hom gesê dat ek hom vir moord in hegtenis neem. Ek het hom daarna oor sy regte ingelig,” het Kanna getuig. Christopher het toestemming verleen dat sy motor deursoek kon word. Die selfoon waarmee hy Luthando gekontak het, is in sy motor gekry. Hy het egter geweier om enigiets te onderteken en het net gepraat wanneer dit absoluut noodsaaklik was. “Hy het sy swygreg uitgeoefen,” het Kanna getuig.

Christopher het wel ook toestemming gegee dat sy huis in Kabaga Park deursoek kon word.

Adv. Terry Price het gevra om Kanna Swanepoel eers weer na die getuiebank terug te roep nadat die staat se volgende drie getuies verskyn het.

Die hof het tot twee-uur verdaag.