Hilda du Plessis, ’n forensiese bestuurder en selfoondata-ontleder by Cell C, het getuig die maatskappy sal net met wettige dokumentasie inligting oor selfoonrekords bekendmaak.

’n Sigblad (“spreadsheet”) wat sy aan die hof voorgelê het, bevat die volgende:

  • Datums waarop oproepe gemaak is;
  • Tye wanneer dit gemaak is;
  • Die duur van die oproepe;
  • SMS-boodskappe;
  • Internetgebruik;
  • Selfoonmodel en -naam;
  • Selfoonbasis waar die verbinding gemaak is.

Adv. Terry Price (vir Christopher Panayiotou) en Peter Daubermann (vir Zolani Sibeko en Sinethemba Nenembe) het aangedui hulle het nie in hierdie stadium nog vrae nie, maar dit kan verander nadat hulle hul eie kenners geraadpleeg het.

Thereza Botha was volgende in die getuiebank.

Sy is ’n nasionale ondersoek-ontleder wat langer as 20 jaar vir die Valke en die Suid-Afrikaanse Polisiediens gewerk het.

Price het gesê Botha se ervaring maak nie van haar ’n kundige nie. Regter Dayalan Chetty beskou haar as ’n "data-speurder", maar Price voel dit maak haar steeds nie 'n kundige nie.

Die staatsaanklaer, Marius Stander, sê hy sal die getuienis aanvoer en die regter kan self aan die einde daarvan besluit of Botha ’n kundige is of nie.

Botha getuig sy het nie net op die dag van die moord gefokus nie; haar ondersoek het meer as 21 April 2015 behels.

Sy het die vermoorde Jayde Panayiotou se selfoonbesonderhede nagegaan. Daaruit was dit duidelik dat sy gereeld met haar vriendin Cherise Swanepoel kontak gehad het.

Jayde se gereelde bewegings, soos die besoek aan haar ouers op die plaas, word op die sigblad aangedui. Botha het ook getuig Jayde het tot en met haar moord dieselfde selfoon gebruik.

Botha het ook Chanelle Coutts, met wie Christopher luidens berigte 'n affair gehad het, se selfoonbesonderhede ondersoek. Chanelle en Christopher het volgens die data gereeld telefoniese kontak gehad wanneer Jayde by haar ouers was.

Wanneer Christopher saam met Jayde op die plaas was, het hy en Chanelle nie mekaar gebel nie.

Op 18/19 Oktober 2015 het hy nie met Chanelle op haar selfoon gesels nie. Hy het wel die OK Grocer sewe keer gebel.

Botha het ook getuig Chanelle se selfoon was by Jayde en Christopher se huis wanneer Jayde nie tuis was nie.

Dit was ook gewoonlik die laaste oproepe wat aan die einde van dae gemaak is.

Op 27 Januarie 2015 is daar volgens die getuienis die eerste selfoonkontak tussen Christopher en Mawonga Ndedwa, ’n voormalige werknemer van die OK Grocer in Algoapark.

Verskeie oproepe is gemaak tussen Christopher en Mawonga, asook Mawonga en Luthando Siyoni.

Botha het gefokus op die oproepe tussen Mawonga en Luthando van 8 tot 22 April 2015. Daar is ’n nommer op Luthando se selfoon wat as Trompie geberg is.

Chanelle het later met Trompie gekommunikeer. Volgens selfoondata was Christopher se selfoon nie teenwoordig toe die oproepe na Trompie gemaak is nie.

Nog ’n paar ander name duik op: Sky, Khusta (Khuselo Vandala) en Happy Trigger. Khusta is ’n kennis van Sizwe Vumazonke en Zolani Sibeko.

Happy Trigger is na bewering eerste genader om die huurmoord uit te voer. Daar is ook ’n nommer genaamd Happy Trigger 2.

Botha sê dit is betekenisvol dat Vumazonke en Christopher albei met Khusta kontak gemaak het. Price sê dis nie relevant nie, want Vumazonke en Khusta is neefs. Chetty sê hy sal self besluit wat relevant is.

Christopher se neef Claudio Bertalani en Vumazonke het ook kontak gehad.

Christopher en Claudio het vanaf 1 September 2014 tot en met Christopher se inhegtenisneming op 29 April 2015 altesaam 810 keer met mekaar gekommunikeer.

Op 10 Februarie 2015 maak Siyoni se selfoonkontak met Sky 2. Die eerste SMS sê “Ford Fiesta”. Die tweede SMS verskaf ’n registrasienommer.

Volgens selfoonaktiwiteit in die tydperk voor Jayde se dood lyk dit of of Happy Trigger en Sky gereeld in die omgewing van haar huis was.

Wie is Mawonga Ndedwa?

1. Hy is ná ’n dissiplinêre verhoor by die OK Grocer afgedank. Hy is betrap toe hy glo ’n bottel whisky steel; iets wat hy na bewering doelbewus gedoen het om afgedank te word.

2. Adv. Terry Price het aangevoer Mawonga het eers skuld erken toe hy die video van die beweerde diefstal sien. Daar word beweer hy het minstens 11 bottels whisky gesteel.

3. Mawonga het geantwoord hy wou nie sy werkloosheidsvoordele verloor nie en wou daarom nie bedank nie.

4. In Februarie 2016 is hy afgedank, en 12 dae later het hy ’n verklaring by die ondersoekbeampte, lt. Kanna Swanepoel, afgelê.

5. Mawonga het beweer Christopher het sy foon gebruik om met die vermeende middelman, Luthando Siyoni, kontak te maak.

Die saak gaan Woensdag om 09:30 voort.