Adv. Terry Price het in die Port Elizabeth-hof te kenne gegee hy was effens geskok nadat die staatsaanklaer, Marius Stander, aangedui het die staat het sy saak gesluit.

Price het glo verwag die ondersoekbeampte, Kanna Swanepoel, gaan nog getuig.

Hy het toestemming van die hof verkry om met Chanelle Coutts, Christopher se vermeende minnares, en Donovan Vosloo te konsulteer aangesien die staat hulle nie as getuies geroep het nie.

Vosloo het Christopher glo met rekenaarprobleme gehelp. Die staat beweer hy het Christopher se selfoon skoongevee.

Adv. Peter Daubermann, wat vir die vermeende huurmoordenaar, Sinethemba Nemembe, en medesamesweerder Zolani Sibeko, optree het vroeër vandag RICA-verslae ingedien waarop die selfoonnommers verskyn wat verband hou met die moordsaak. Onbekende name verskyn daarop.

Hy dui aan mense wat by misdaad betrokke is, verander dikwels hul selfoonnommer.

Sinethemba Nemembe se selfoonnommer is op 23 November 2013 geregistreer in die naam van Gordon Nathan.  

Op 3 September 2014 het die geregistreerde naam verander. Dieselfde gebeur in Julie 2015.

Ao. Shane Bosch sê die identiteitsnommers wat met die nommer verbind word, lyk vals. Hy dui aan mense wat by misdaad betrokke is, verander dikwels hul selfoonnommer.

Daubermann keer terug na Bosch se besoek aan Zolani Sibeko se huis. Volgens Bosch het Sibeko niks gesê nie, maar geskok voorgekom. Hy sê hy het Sibeko ingelig oor sy regte, maar Daubermann sê Sibeko het nie die geleentheid gehad om voor ondervraging regsverteenwoordiging te kry nie.

Bosch antwoord hy het aangeneem Sibeko sou ’n regsverteenwoordiger vra omdat hy op 'n aanklag van moord in hegtenis geneem is. Hy het dit aan die ondersoekbeampte oorgelaat om die proses aan Sibeko se ma te verduidelik.

Die saak is tot Donderdag 29 Junie uitgestel.