Mawonga Ndedwa is Vrydag in die hof in Port Elizabeth kruisondervra oor onder meer selfoonnommers en ’n SIM-kaart wat vernietig is.

Hy is ’n voormalige werknemer by die moordbeskuldigde Christopher Panayiotou se OK Grocer, maar het ook by Infinity as ’n uitsmyter diens gedoen.

Op ’n Facebook-blad wat waarskynlik deur hom begin is, word aangedui hy werk by die OK Grocer. Sedertien was daar nie nog plasings op dié spesifieke blad nie.

Mawonga was aanvanklik ook een van die beskuldigdes, maar het sedertdien ’n staatsgetuie geword.

Hy het Donderdag in die hof getuig hy het R30 000 in Infinity se pakkamer aangetref en dat Christopher van die geld geweet het.

Adv. Terry Price, vir Christopher, het Mawonga as ’n gegriefde werknemer bestempel. Hy is afgedank ná beweerde diefstal by Infinity.

Die verdediging bestempel die R1 000 wat Christopher hom na bewering betaal het om sy selfoon te vervang as ’n voorskot. Mawonga erken hy het gereeld R100 of R200 geleen, maar die betrokke R1 000 is nooit van sy salaris verhaal nie.

Terry het gesê hulle het ’n opname ’n telefoonoproep tussen Mawonga en Fanoula Panayiotou, Christopher se ma.

Volgens hom het Mawonga Fanoula gedreig vir geld in ruil vir die selfoon. Mawonga het daarop aangedring om na die opname te luister. Die publiek is aangesê om die hof te verlaat terwyl hy daarna geluister het.

Die staatsaanklaer, Marius Stander,  het bevestig hy beskou die transkripsie van die telefoongesprek as ’n korrekte weergawe daarvan. Hier volg die transkripsie van die opname:

In die gesprek het Mawonga aan Fanoula gesê hy sal die foon terugbring. Op Terry se vraag of Mawonga ’n beloning daarvoor ontvang het, het Mawonga ontkennend geantwoord.

Mawonga beweer hy het op 21 April 2015 ’n dag af gevat en was in sy kamer in Zwide.

Terry wou Mawonga weet of hy die beskuldigde Luthando Syoni gevra het of hy sy R30 000 ontvang het. Dit was die geld wat Mawonga in ’n sak in die pakkamer gesien het. Mawonga sê hy het dit nie gedoen nie, want dit was nie vir hom belangrik nie.

Twee weke voor die vermoorde Jayde Panayiouto se verdwyning was daar wel 27 oproepe tussen Mawonga se selfoon en dié van Luthando.

Mawonga hou vol dit was nie hy wat gebel het nie. Hy het Donderdag getuig Christopher het sy selfoon gereeld gebruik en in ruil daarvoor vir hom lugtyd gekoop.

Daar was ook ’n keer toe Christopher die winkel met sy selfoon verlaat het. Mawonga het dit glo die volgende dag by Ifinity gevind.

Terry vra nog tyd om selfoonrekords deur te werk. Die hof verdaag tot Maandag.