Hy verteenwoordig Zolani Sibeko en Sinethemba Nemembe, wat saam met Christopher Panayiotou aangekla word van moord op Jayde Panayiotou.

Daubermann, nes adv. Terry Price, vra Botha uit oor haar loopbaan. Botha getuig sy het ’n ondersteuningsdiens aan ondersoekbeamptes gelewer en was nie ’n “polisievrou” nie. Sy het die polisiediens op 29 Februarie 2016 verlaat.

Hy vra of sy ’n wiskundige of sielkundige is, waarop sy elke keer "nee" antwoord. "En ek is ook nie ’n ginekoloog nie.” 

Sy getuig haar verslag is dalk nie perfek nie, maar dat sy nie inligting daarin sou vervat wat nie tersaaklik is nie.

Daubermann sê Sibeko was nie in die prentjie toe Jayde en Christopher se huis aan Sizwe Vumazonke uitgewys is nie. Hy het eers op 15 April, ses dae voor Jayde se moord, opgeduik.

Daubermann voer aan Botha se interpretasie oor die moontlike verkenningstog is ongegrond.

Hy lê ’n kombinasie van Vumazonke en Sibeko se selfoonrekords aan die hof voor. Dit het te doen met oproepe op 15 en 16 April 2015.

Hy sê die enigste kommunikasie tussen die twee het om 19:34 op 11 April plaasgevind. Sibeko kon Vumazonke nie in die hande kry nie.

Botha stem saam, maar sê dis nie noodwendig die enigste manier om te kommunikeer nie. Hulle kon mekaar ontmoet of deur WhatsApp of SMS'e kontak gemaak het.

Solani se selfoonsein registreer om 21:13 in die omgewing van Stellen Glen. Botha stem saam met Daubermann dat selfoondata nie aandui wie in die motor was nie, maar hoewel Daubermann voel die data dui nie op ’n verkenningstog nie, sê Botha sy glo dit was die geval.

Op 16 April is daar om 04:26 'n oproep van Vumazonke se selfoon na dié van Sibeko. Verskeie oproepe volg en die laaste een registreer om 06:20.

Op die dag van Jayde se moord is daar geen selfoonkontak tussen Vumazonke en Sibeko nie.

Die fokus verskuif nou na Nemembe. Hy kom op die dag van Jayde se moord, 21 April 2015, die eerste keer ter sprake.

Daubermann sluit sy kruisverhoor af deur te sê daar kan nie bewys word dat Nombembe saam met Vumazonke na KwaNobuhle gery het nie.

“Hulle was nie in dieselfde voertuig nie, maar het by dieselfde punte verbygery.”

Die staatsaanklaer, Marius Stander, kan Botha weer ondervra. Hy gebruik ’n lugfoto van waar Jayde se lyk gevind is en vra Botha om aan te dui waar sy vars blomme gevind het.

Hy opper ook die enigste selfoonkontak tussen Sibeko en Vumazonke, op 11 April 2015, en noem die huurmotor se GPS plaas dit 300 m van die toring waar Nemembe se selfoonsein bespeur is.

Adv. Terry Price (vir Christopher) sê Stander se ondervraging van Botha is bloot ’n oefening in buikspraak, want wanneer Stander iets sê, beaam Botha dit.

Stander sê net van die bewysstukke is aan Botha voorgelê en hy wil 'n balans bewerkstellig.

Die volgende getuie is sers. Dwayne Francis van die polisie se kuber-eenheid in Oos-Londen. Hy verduidelik aan die hof hoe dit werk wanneer data gebruik word om iets met 'n selfoon vanaf die internet te laai.

Volgens hom kan daardie besonderhede nie aangepas word nie. Inligting word van die selfoon en die SIM-kaart verkry. Die inligting sluit onder meer in watter webwerwe besoek is, wat byvoorbeeld van die PlayStore afgelaai is, multi-media-boodskappe en SMS-boodskappe.

Stander dui aan dat hy die bewysstukhouers in die teenwoordigheid van die regspanne sal oopmaak.

Die saak gaan Vrydag, 09:30 voort.

Die rolspelers

Jayde Panayiotou is op 21 April 2015 buite haar woonkompleks in Kabega Park, Port Elizabeth, ontvoer terwyl sy vir haar saamrygeleentheid na die Hoërskool Riebeeckpark gewag het. Haar liggaam is op 22 April met ’n skietwond in ’n veld buite die township KwaNobuhle, Uitenhage, gevind.

Christopher Panayiotou, Jayde se man, is op 4 Mei 2015 amptelik van die moord op sy vrou aangekla. Hy besit ’n 10-persent-aandeel in die OK Grocer in Algoa Park.

Sy pa, Costa, en ’n oom van Johannesburg besit die res. Hy het na bewering R30 000 per maand verdien. Die familie besit ook die Infinity-nagklub.

Christopher beland in die spervuur toe bekend raak sy emosiebelaaide huldeblyk aan Jayde is eintlik van die internet afkomstig. Dit toon 'n baie sterk ooreenkoms met 'n huldeblyk wat Charles Atkins in Oktober 2010 geskryf het met die titel: "My Sweet Wife's Eulogy."

Luthando Siyoni is die vermeende middelman wat na bewering mense moes huur om Jayde te ontvoer en vermoor. Hy het as ’n uitsmyter by die Infinity-nagklub gewerk en ook sy eie gimnasium besit.

Babalwa Breakfast, Siyoni se meisie, het twee verklarings afgelê. In die eerste word verwys na ’n motor wat na die huis gekom het, maar in die tweede verklaring word geen melding daarvan gemaak nie.

Sy verwys ook na geld in ’n sak en later praat sy oor geld in die hand. Sy word op 27 Oktober 2016 as ’n vyandige getuie verklaar en in die hof in hegtenis geneem op aanklagte van meineed en dwarsboming van die gereg. Die klagte is voorlopig teruggetrek.

Sizwe Vumazonke, die vermeende moordenaar, het destyds in sy verklaring gesê hulle het “probleme” ervaar. Hulle het Jayde glo gereeld misgeloop terwyl sy vir vervoer gewag het. Jayde en haar beste vriendin en kollega, Cherise Swanepoel, het beurte gemaak met ritte na die skool en terug. Hy is op 8 September 2016 in die hospitaal oorlede nadat hy ’n paar dae lank in ’n koma was.

Zolani Sibeko, die beskuldigde wat gereeld sy gesig in die hof verberg, hou deurentyd vol die staat het nie ’n saak teen hom nie. Hy beskuldig die staat daarvan dat bewysstukke en getuienis aangepas word waar daar leemtes in die saak teen sy medebeskuldigdes is.

Hy het vir homself gewerk en is die ongetroude pa van drie. Alhoewel Sibeko ontken het dat hy ’n selfoon besit, het die skerm daarvan sigbaar geword toe die polisie sy nommer bel. Hy het die selfoon in sy ouma se nagklere versteek.

Khusela Vandala, beter bekend as Khusta, het op 6 Desember 2016 in detail getuig hoe hy gevra is om Sibeko te help om ’n vuurwapen in die hande te kry. Sy pogings was onsuksesvol, en hy onttrek hom van die beplande ontvoering en moord op Jayde.

Chanelle Coutts, ’n werknemer by die OK Grocer, is ook Christopher se vermeende minnares. Hulle het glo van voor sy troue met Jayde ’n verhouding gehad. Chanelle was glo baie ontsteld oor die troue. Op 21 Junie 2017 het die hof gehoor Chanelle se selfoon is 17 keer gebruik om ene Trompie te kontak. Hy was een van die mans wat aanvanklik genader is vir die beweerde huurmoord.

Clarishka Kapp, destyds ’n vriendin van Chanelle, het getuig sy het geweet Chanelle het ’n verhouding met Christopher gehad nog voor hy met Jayde getroud was. Die hof het gehoor dat Christopher vir haar en Chanelle peperduur geskenke gekoop en naweke saam weggeneem het.

Save