Vrydag het regter Dayalan Chetty die afdeling 174-versoek verwerp en aangevoer Sinethembe Nemembe en Zolani Sibeko moet wel tot verantwoording geroep word.

Nemembe en Sibeko verskyn saam met Christopher Panayiotou op onder meer aanklagte van die ontvoering van en die moord op Christopher se vrou, Jayde. Sy is op 21 April 2015 ontvoer. Haar lyk is 24 uur later in die bosse gevind. 

Die staatsaanklaer, Marius Stander, het Vrydag gereageer op die vertoë wat Daubermann Donderdag gelewer het oor die beweerde nutteloosheid van die selfoontorings en verbandhoudende selfoon-inligting.

Stander voer aan dis duidelik Luthando Siyoni, die vermeende middelman, het Sizwezakhe Vumazonke vir die huurmoord op Jayde gewerf en dat ’n motor gehuur is. (Vumazonke is intussen oorlede.)

Hy sê Vumazonke en Nemembe het nooit voor April met mekaar kontak gehad nie. Toe volg 89 gesprekke tussen die twee. Op 9 April 2015 het Vumazonke ook verskeie gesprekke met Nemembe, Khusala Vandala (Khusta) en Sibeko gehad.

Op 13,15, 16 en 21 April is daar verskeie oproepe tussen 04:00 en 06:00. Stander noem dit “belaglike tye” (vir 'n telefoongesprek).

Op verskillende dae word baie oproepe tussen Vumazonke en Sibeko gemaak. Op een dag, 15 April, is daar nege oproepe tussen die twee, en op ’n ander dag 31.

Op 20 April word die lyne behoorlik warm gebel tussen Siyoni, Vumazonke, Nemembe en Khusta.

Siyoni het glo ook ’n oproep ontvang oomblikke nadat Jayde vermoor is.

Stander fokus op omstandigheidsgetuienis en dui aan hy verbind Nemembe en Sibeko met Vumazonke se selfoon.

Hy dui aan die nommer wat die staat beweer aan Sibeko behoort het, was op Vumazonke se selfoon geberg onder die naam “Zolani”.

Terwyl Stander aandui dat daar ’n berg van getuienis teen die beskuldigde is, sê Daubermann dis niks anders as ’n kaartehuis wat nou ineengestort het nie.

Oor Stander se aanduiding dat van die oproepe op belaglike tye plaasgevind het, sê hy hy ken mense wat in die vroeë oggendure met mekaar gesels.

Hy opper weer die samesweringsteorie aan die kant van die staat.

Stander dui aan daar is ooreengekom dat die verhoor in die week van 26-29 September en die week van 16 - 20 Oktober voortgesit word.