Adv. Terry Price (vir Christopher) het die getuie Thereza Botha twee keer as onprofessioneel beskryf, geïmpliseer sy onthou sleg en gesê haar Engels is power.

Hy het ook gesê hy is “moeg vir Botha se snedige aanmerkings”.

Hy het die oproepe waaroor haar verslag handel stelselmatig deurgegaan.

Price het Botha gevra oor die oproepe na Trompie se selfoon en hoekom sy Chanelle Coutts nie daaroor geraadpleeg het nie. Sy het geantwoord Coutts, Christopher se vermeende minnares, is nie ’n beskuldigde nie.

Die advokaat wou ook weet hoekom Botha die 800 oproepe tussen Christopher en sy neef Claudio Bertolani as insiggewend beskou het. Hy het aangevoer dit is glad nie relevant nie; die twee het saam grootgeword en is baie na aan mekaar.

Botha het ook getuig die ander beskuldigdes, Sizwezakhe Vumazonke en Luthando Siyoni, het op Facebook telefoonnommers met mekaar gedeel.

Price het gesê daar is geen bewys dat Vumazonke die motor bestuur het nie. (Jayde Panayiotou is in 'n huurmotor ontvoer.) Botha het verduidelik sy het die GPS-data gebruik om te sien of die tersaaklike selfone in die omtrek was.

Toe die advokaat vra sy moet Cherise Swanepoel se huis beskryf, het Botha gesê daar is ’n hek en ’n pad. Price wou weet of sy sarkasties is. Botha het geantwoord sy besoek soveel misdaadtonele, sy kan nie elke klein besonderheid onthou nie.

Price het ook aangevoer die oproepe van Coutts se selfoon na Trompie s’n het elke keer in ’n stemboodskap geëindig. Sy het dus nie met hom gepraat nie.

Hy het ook gesê die media het van die eerste dag af verkeerd oor die saak verslag gedoen. Hy het die PE Herald aangehaal en gesê hulle mislei die publiek.

Voorts het hy gesê Botha het ’n fout gemaak in haar verslag deur Coutts se naam met die OK Grocer se landlyn te verbind; enigiemand kon dit gebruik het.

Price het Botha ook gekritiseer oor haar opmerking dat die huurmotor verby Jayde se huis gery het en gesê daar talle mense woon in Stellen Glen.

Hy het aangevoer die voertuig wat die omgewing verken het, kon dui op ’n misdaad wat gepleeg is omdat die geleentheid hom voorgedoen het.

Price het geskok gelyk toe Botha getuig sy het Siyoni by die Humewood-polisiekantoor ondervra. Sy regsverteenwoordiger was nie by nie, het die hof gehoor.

Die advokaat het aangevoer Botha en die twee polisielede wat haar vergesel het, het onwettig opgetree.

Volgens Price het Christopher die aand van Jayde se verdwyning  na die OK Grocer gegaan om koeldrank, versnaperings en flitse vir die soekspan te kry.

Hy sê die hipotese (die staat se weergawe) waarmee Botha gewerk het om haar data saam te stel, is bog.

Die hof het tot Donderdag verdaag.