Christopher word verhoor as die vermeende baasbrein agter sy vrou, Jayde, se moord en ontvoerin.

 

Op 16 April 2015 toon GPS-data die huurmotor wat na bewering vir die moord gebruik sou word, het tussen 05:55 en 06:21 ses keer by die Panayioutous se huis verbygery.

Daarna het dieselfde motor tussen 06:29 en 06:30 verby Jayde se vriendin en kollega Cherise Swanepoel se huis gery voor dit om 06:39 na Jayde se huis teruggekeer het.

Selfoondata dui daarop dat Sibeko se selfoon in dieselfde omgewing was as dié van Sizwe Vumazonke, die beskuldigde wat intussen oorlede is. Die twee was nie in dieselfde motor nie, maar het oënskynlik dieselfde roete gevolg.

Dieselfde patroon is volgens Botha herhaal op die dag van Jayde se moord.

Vumazonke het om 15:41  by Zems Wheels & Deal die deposito betaal vir die huur van die motor.

Die dag van Jayde se moord, 21 April 2015

Volgens die GPS het die motor om 05:24 van Vumazonke se huis vertrek op pad na Nemembe se huis. Om 05:28 word ’n oproep na Nemembe gemaak. Die sein is afkomstig van die Kwanobhule-selfoontoring.

Om 05:36 is daar ’n oproep van Vumazonke se selfoon na dié van Khusta (Khusela Vandala). Hy het hulle na bewering 'n vuurwapen help kry. Nog ’n oproep na Khusta volg om 06:13.

Op die dag van Jayde se ontvoering en moord is ses-sewe keer om haar huis gery. Om 6:13 is daar weer ’n oproep van Vumazonke se selfoon na dié van Khusta. Dit is vermoedelik van voor Jayde se huis gemaak.

Jayde is omstreeks 06:30 buite Stellen Glen ontvoer.

Om 07:13 word die motor afgeskakel. Dit is in die Uitenhage-gebied. Om 07:09 word daar ’n oproep na Siyoni se selfoon gemaak. Volgens die GPS het die motor ’n U-draai uitgevoer en teruggery in die rigting waarvandaan dit gekom het.

Jayde se lyk is gevind 22 m van waar die motor se enjin afgeskakel is.

Geld onttrek uit Jayde se bankrekening

Om 07:23 word by 'n Absa-kitsbank geld uit Jayde se bankrekening onttrek. Agt minute later is daar weer kontak tussen Vumazonke en Nemembe se selfone.

Daar is drie keer geld uit Jayde se rekening onttrek: om 07:26:58 word R1 500 getrek, om 08:202:23 weer R1 500 en om 08:21:45 nog R500.

Alhoewel die daaropvolgende pogings om geld uit haar rekening te onttrek onsuksesvol was, is tot 12:55:17 gepoog om nog geld uit haar bankrekening te bekom.

Die aand van die moord

Ná 22:00 is daar ’n SMS van Siyoni na Vumazonke se selfoon gestuur.

Christopher se selfoon registreer om 21:10 naby sy huis. Sowat 10 minute later verlaat hy sy huis.

Phillip Vosloo, Donovan Vosloo se pa en ’n vriend van Christopher, bel hom om 23:45. Vyf minute later is daar kontak tussen Christopher en Siyoni se selfone. Die oproep duur 39 sekondes.

So lyk die kaart van oproepe wat gemaak is

Kruisverhoor

Onder kruisverhoor word Botha deur adv. Terry Price gevra of sy weet ’n deskundige moet objektief en regverdig wees. Sy antwoord sy het nooit beweer sy is ’n deskundige nie en dat sy wel haar bes doen om objektief te bly.

Price wil nie aanvaar dat Botha nie tyd gemaak het om deur Mawonga se getuienis te gaan nie. Hy sê haar inligting oor Mawonga is verkeerd. Sy antwoord hy’s afgedank, maar Price sê dis onwaar; dit was bloot ’n bewering.

Price impliseer Botha is onprofessioneel. Sy sê dit sou onprofessioneel wees om ’n verslag aan te pas nadat elke getuienis wat aangehoor is. “My werk was om die bewyse te toets.”

Hy versoek al die notas wat sy gemaak het toe sy haar verslag opgestel het. Sy gaan akkoord daarmee.

Price noem dat daar nooit enige regstreekse kontak tussen Christopher en Trompie was nie. Hy het nooit regstreekse kontak gehad met enige van die vermeende huurmoordenaars of dié wat daarvoor genader is nie.

Hy noem haar weer onprofessioneel omdat sy nie met Chanelle Coutts, Christopher se vermeende minnares, ’n gesprek gehad nie.

Sy sê sy het nie dit nodig geag om met Chanelle te gesels nie. Sy sê sy kan voorts nie presies alles onthou wat in ’n verklaring geskryf is nie. (Botha het vroeër getuig sy werk op enige gegewe tyd met vyf tot ses sake.)

Weer kap Price na haar en sê sy het ’n slegte geheue.

Vroeër

Dinsdag het die hof gehoor Chanelle se selfoon is 17 keer gebruik om ene Trompie te kontak. Hy was een van die mans wat aanvanklik genader is vir die beweerde huurmoord.

Die oproepe het tussen September en Oktober 2014 plaasgevind. Volgens Botha was die selfoon nie deur Christopher gebruik nie omdat sy selfoon volgens die selfoondata in ’n ander gebied geregistreer is.

Ekstra bron: heraldlive.co.za