Jy het dalk Maandagoggend wakker geword en gesien die wêreldmedia is op hol oor die sogenaamde Panama Papers, oftewel die “grootste lekkasie in die geskiedenis”.

Maar wat presies het uitgelek? Finansiële inligting. Om presies te wees, sowat 11,5 miljoen dokumente van die databasis van die regsfirma Mossack Fonseca in Panama.

Die dokumente, wat ’n anonieme bron na die Duitse dagblad Süddeutsche Zeitung gestuur het, toon hoe die maatskappy sakemanne, politici en bekendes van regoor die wêreld gehelp het om hul rykdom te versteek, belasting te ontduik en selfs met geldwassery gehelp het.

Die skatkis van inligting het glo die “parallelle heelal van die superrykes en magtiges ontbloot,” berig Fusion en skryf verder dis die “Ashley Madison” van buitelandse belasting-toevlugte.

Hoekom raak dit jou?

Die Russiese president Wladimir Poetin, die voormalige president van Egipte Hosni Moebarak en Libië se voormalige leier, kol. Moeammar Gaddafi en Sirië se pres. Basjar al-Assad is by die skandaal betrek.

Die Suid-Afrikaanse mynmagnaat Khulubuse Zuma – pres. Jacob Zuma se neef – is ook by die verdoemende verslag betrek. In die dokumente word aangedui dat Mossack Fonseca se werk met Khulubuse verband hou met sy twee olievelde in die noordooste van die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) se pres. Joseph Kabila aan hom en nog ’n maatskappy in ’n ooreenkoms van R100 biljoen toegeken het.

Lees ook: Pres. Jacob Zuma: ‘Ek het nie oneerlik opgetree nie’

Joseph het die olievelde oorgeteken aan Khulubuse se maatskappy, Caprikat Limited, wat in die Britse Maagde-eilande gevestig is. Volgens die dokumente het owerhede van die Britse Maagde-eilande die regsfirma gevra om Khulubuse se besonderhede te verskaf. Mossack Fonseca het egter kort daarna besluit om “hul verhouding te beëindig” met Khulubuse en Caprikat.

Dié twaalf nasionale leiers se name duik op in die dokumente:

1. President van Argentinië Mauricio Macri

2. Koning Salman bin Abdoelaziz bin Abdoelrahman al-Saoed van Saoedi-Arabië

3. President van die Oekraïne Petro Poroshenko

4. Premier van Ysland Sigmundur Davíð Gunnlaugsson

5. President van die Verenigde Arabiese Emirate Khalifa bin Zayed bin Sultan Al Nahyan

6. Voormalige premier van Georgië Bidzina Ivanishvili 7. Voormalige premier van Irak Ayad Allawi 8. Voormalige premier van Jordanië Ali Abu al-Ragheb 9. Voormalige premier van Katar Hamad bin Jassim bin Jaber Al Thani 10. Voormalige emir van Katar sjeik Hamad bin Khalifa Al Thani 11. Voormalige president van Soedan Ahmad Ali al-Mirghani 12. Veroordeelde voormalige premier van Ukraïene Pavlo Lazarenko

As die storie oor politici en hul twyfelagtige sake jou nie interesseer nie, sal jy dit dalk interessant vind om te weet die superster-sokkerspeler Lionel Messi se naam het ook in die dokumente opgeduik (in verband met Mega Star Enterprises, ’n dopmaatskappy wat hy en sy pa besit).

Michel Platini, die geskorste hoof van UEFA, se naam verskyn ook in die dokumente wat aandui die beleërde sokkerbeampte het dalk vir Mossack Fonseca gevra om hom te help bestuur aan ’n maatskappy wat in 2007 in Panama gestig is.

Die e-posse, finansiële sigblaaie, paspoorte en korporatiewe rekords wat uitgelek is, wys dat meer as 500 banke saam met Mossack Fonseca gewerk het om hul kliënte se buitelandse fondse te “bestuur”.

Vir ’n meer indiepte kykie na die dokumente, besoek . Dis die webtuiste vir die internasionale konsortium van ondersoekende joernaliste, wat saam met die Süddeutsche Zeitung aan die verslag gewerk het.

- Kirstin Buick

Bronne: The Guardian, BBC, News24, The Metro, Mail Online

Ook op Huisgenoot.com:

Dié ma is verras met ’n vyfling – en dit nadat sy gedink het sy gaan net een baba hê

Dis nou tyd vir Sylvester die leeu om te kalmeer

Is dié een van die wreedste of oorspronklikste poetse ooit?

‘Papierman’ omskep Britse stede in bekende Disney-tonele

Ons kan heelwat by dié 4-jarige gimnas leer

Mense ‘woedend’ ná wag vuurwapen ‘per ongeluk’ laat afgaan en twee seuns beseer