Die 49-jarige aktrise, self ’n onwillige deelnemer aan pornografie toe ’n seksvideo van haar en haar destydse man Tommy Lee in 1995 uitgelek het, het met rabbi Shmuley Boteach, ’n berader, saamgespan om ’n rubriek vir die Wall Street Journal te skryf.

Daarin moedig die rabbi en die voormalige Playboy-model mense aan om hul verknogtheid aan eksplisiete materiaal te staak omdat dit hul verhoudings kan vernietig.

“Dit is ’n openbare gevaar wat ongeëwenaarde afmetings kan aanneem as ’n mens kyk hoe vryelik beskikbaar en toeganklik pornografie deesdae is en hoe maklik dit versprei word,” skryf hulle.

Lees ook: Bekende ster word aangekla vir besit van kinderpornografie

“Hoeveel gesinne sal daaronder ly? Hoeveel huwelike sal tot niet gaan? Hoeveel talentvolle mans sal hul belangrikste verhoudings en hul loopbaan verwoes vir ’n kort onanistiese genieting?”

Hulle beskryf pornografie as ’n “nuttelose uitlaatklep vir mense wat te lui is om die oorvloedige vrugte van gesonde seksualiteit te pluk” en brandmerk dié wat dit kyk as “verloorders”.

Die rubriek is geskryf in reaksie op die voormalige kongreslid Anthony Weiner se jongste skandaal: Die oudpolitikus het ’n seks-MMS na ’n brunette gestuur terwyl sy seuntjie saam met hom in die bed was.

Lees ook: Minderjarige meisie gestraf oor pornografie

Kort nadat die New York Post die gewraakte foto gepubliseer het, het sy vrou, Huma Abedin, aangekondig hul paaie gaan skei. Pam en Shmuley het dit gebruik om aan te dui hoe pornografie ’n verhouding kan vernietig.

“Wat nodig is, is ’n eerlike gesprek oor wat ons sien – die ware aard en gevaar van pornografie – en ’n erekode om dit in die kiem te smoor in die gemeenskaplike belang van ons welstand as individue, gesinne en gemeenskappe,” skryf hulle.

“En as enigiemand steeds twyfel oor hoe pornografie die lewe verwoes van die mense naaste aan die verslaafde, moet hulle kyk na die verbrokkelde huwelik van mnr. Weiner en Huma Abedin; dit is sy wat luidens berigte besluit het die huwelik is verby nadat die oudkongreslid hul vierjarige seun ingesluit het in een suggestiewe foto wat hy aan ’n byna onbekende gestuur het.”

© Cover Media