Arme Pamela Anderson! Die aktrise het onlangs onthul dat sy as kind molesteer was. Die voormalige Baywatch-ster het tydens ’n toespraak by die bekendstelling van haar nuwe diereliefdadigheidsorganisasie, The Pamela Anderson Foundation, by die Cannes-rolprentfees vertel hoe sy deur haar oppasser molesteer en later in haar tienerjare verkrag is.

‘‘Ek het nie maklike kinderjare gehad nie,’’ sê sy.

‘‘Ek het liefdevolle ouers gehad, maar ten spyte hiervan het my oppasser, ’n vrou, my van die ouderdom van ses tot 10 molesteer,’’ het die 46-jarige ster onthul by die geleentheid wat deur sowat 200 gaste bygewoon is. Hieronder was haar man, Rick Salomon (46).

Pamela het ook vertel hoe sy op 12 verkrag is. ‘‘Ek is na ’n vriendin se kêrel se huis toe en terwyl sy besig was, het die kêrel se ouer broer besluit om my te leer hoe om (die bordspeletjie) backgammon te speel. Hy het my rug masseer en toe het hy my verkrag - dit was my eerste heteroseksuele ervaring. Hy was 25 en ek 12.’’

Haar eerste kêrel en sy vriende het haar ook verkrag. ‘‘My eerste kêrel het besluti dit sou snaaks wees as hy en ses van sy vriende my verkrag,’’ het sy onthul. Sy wou hierna nie meer lewe nie, vertel sy.

Haar ouers het haar veilig probeer hou, maar die wêreld was nie ‘n veilige plek nie, sê Pamela. Haar pa was ‘n alkoholis en haar ma het twee werke gehad as kelnerin. Sy het nooit vir haar ma vertel van die verkragtings nie omdat sy nie haar hart wou breek nie.

Hoewel sy in dié tyd haar geloof in mense verloor het, is sy deur haar liefde vir diere gered, vertel Pamela, ’n vegetariër. Dis dié dat sy hulle nou wil beskerm deur haar nie-winsgewende stigting wat die omgewing en diere- en menseregte beskerm.

Diere was haar enigste regte vriende totdat sy kinders gehad het, vertel sy. Sy het twee seuns, Dylan (16) en Brandon (14), by haar eksman, die musikant Tommy Lee (51).

Na die geleentheid het sy getwiet: ‘‘Ek wil hê mense moet weet hulle kan oorwin en danksy liefde floreer.’’

BRONNE: DAILYMAIL.CO.UK, EONLINE.COM