Prince William en sy vrou, hertogin Catherine, se tweede kind word in April volgende jaar verwag, is Maandag in ’n amptelike verklaring bekendgemaak.

“Hul Koninklike Hooghede die hertog en hertogin van Cambridge is verheug om aan te kondig hulle verwag in April volgende jaar ’n baba,” het ’n verklaring van die paartjie se amptelike woning, Kensington-paleis, gelees.

Die paleis moet nog die baba se geslag bevestig. Maar die gebruik van die woord “baba” in die verklaring bevestig wel dat Catherine nie ’n tweeling verwag nie, soos wat daar al gegis is.

Dit sê ook die hertogin sal Dinsdag haar eerste openbare verskyning in meer as twee maande maak nadat sy met akute oggendnaarheid gesukkel het.