Die 141 mense is dood toe rebelle die skool, wat deur die weermag bestuur word, in die stad Peshawar in die noordweste Dinsdag oorval. Hulle het van vertrek tot vertrek beweeg en kinders in ’n agt uur lange moordtog doodgeskiet. Tehreek-e-Taliban Pakistan (TTP) het verantwoordelikheid aanvaar vir die aanval en het gesê dit is gesê dit is wraak vir ’n groot militêre offensief deur Pakistanse veiligheidsmagte in die streek. Die aanval is wyd veroordeel en het die Pakistanse regering en weermag daartoe gelei om hulle opnuut toe te wy aan die vernietiging van ’n groep wat sedert 2007 duisende lewens geneem het.

Daar was sowat 500 leerders in die skool toe die aanval begin en Asim het gesê die aanvallers, gewapen met ammunisie en genoeg kos vir “etlike dae”, wou net doodmaak.

Een van die oorlewendes, die tiener Shahrukh Khan, het saam met klasmaats onder ’n lessenaar geskuil toe vier gewapende mans by hul klaskamer inbars. Hy het beskryf hoe hy gemaak het of hy dood is nadat hy in albei bene geskiet is en sy das in sy mond gedruk het om sy gille te onderdruk.

“Ek het ’n paar groot, swart stewels na my toe sien aankom; die ou het seker leerders onder die lessenaars gesoek,” het die 16-jarige aan AFP vanuit die traumasaal van die Lady Reading-hospitaal gesê.

“Die man met die groot stewels het leerders aanhou soek en skiet. Ek het so stil moontlik gelê, my oë toe gehou en gewag om weer geskiet te word,” het hy gesê.

“My liggaam het gebewe. Ek was so na aan die dood en ek sal die swart stewels nooit vergeet nie – ek het gevoel asof dit die dood is wat na my op pad is.”

Die eerste minister, Nawaz Sharif, het het drie dae van nasionale rou aangekondig en die aanval beskryf as ’n “nasionale tragedie deur barbare ontketen”.

“Dit was my kinders. Dit is my verlies. Dit is die land se verlies,” het hy gesê. Nawaz sou later ’n vergadering van alle parlementêre partye in Peshawar bymekaarroep. Die Nobelpryswenner vir vrede, Malala Yousafzai, wat self in 2012 deur die Taliban geskiet is, het gesê sy is “gebroke oor die onsinnige en koelbloedige” moorde. Pres. Barack Obama het die aanval as “afskuwelik” veroordeel en het gesê Amerika sal Pakistan bystaan in hul stryd teen gewelddadige ekstremisme. Leiers in Europa het die aanval ook veroordeel. Die Australiese eerste minister, Tony Abbott, het ook met Pakistan gesimpatiseer; ’n versteurde Islamitiese aanvaller het ’n kafee in Sydney oorgeneem en die mense binne gevange gehou.

Narendra Modi, die eerste minister van Pakistan se buurland en bitter teenstander Indië, het gesê hy het Nawaz gebel om sy medelye te betoon.

“Het aan EM Sharif gesê ons is gereed om alle steun in hierdie routydperk te verleen,” het Narendra getwiet.

Die hoof militêre woordvoerder, genl. Asim Bajwa, het gesê 125 mense is in die aanval gewond. Die dodetal is hoër as die 139 mense wat in die bomaanvalle op die gewese eerste minister Benazir Bhutto in 2007 in Karachi omgekom het.

Daar was sowat 500 leerders in die skool toe die aanval begin en Asim het gesê die aanvallers, gewapen met ammunisie en genoeg kos vir “etlike dae”, wou net doodmaak.

“Die terroriste het by die ouditorium ingekom en na willekeur begin skiet; hulle het geen voorneme gehad om gyselaars te neem nie,” het hy aan joernaliste gesê.

’n Senior veiligheidsbeampte het aan AFP gesê die owerheid ondersoek die nasionaliteit van die aanvallers omdat sommige Arabies gepraat het.

Baie slagoffers is Dinsdagaand begrawe en die res sou Woensdag begrawe word.

- Saad Khan/Sapa