“Hy is in hegtenis geneem nadat gemeenskapslede ons van inligting voorsien het,” sê ao. Kay Makhubela.

Hy sê die beloning van R50 000 wat aangebied is vir inligting oor waar Koobendran Moodley hom bevind, sal toegeken word nadat die polisie vasgestel het presies wie die inligting verskaf het.

Koobendran, wat op 6 Julie in ’n silwer Nissan Navara gery het, het na bewering in Starling-street in Uitbreiding Een, Lenasia-Suid, ’n ander motoris in ’n silwer Volkswagen Polo doodgeskiet en die passasier beseer.

Hy het toe van die toneel gevlug.

’n Ooggetuie het glo aan The New Age gesê Koobendran het daardie dag na ’n taverne gegaan, met klante in ’n rusie betrokke geraak en is gevra om te loop.

Hy was toe in ’n motorongeluk betrokke, maar het nie stilgehou om besonderhede uit te ruil nie.

Die bestuurder van die motor waarin hy vasgery het, het hom agtervolg. ’n Rusie het ontstaan waartydens die bestuurder doodgeskiet en ’n ander persoon beseer is.

Ofentse Morwane, ’n woordvoerder van die departement van korrektiewe dienste van Gauteng, het aan die koerant bevestig Koobendran is op borgtog van R1 500 vrygelaat nadat hy vir diefstal in hegtenis geneem is.