’n Arbeidsregkonsultant wat daarvan beskuldig word dat hy ’n motorfietsryer tydens ’n padwoede-voorval doodgeskiet het, gaan na verwagting Vrydag in die landdroshof in Roodepoort verskyn.

Meekahefele Masooa (43) is op 17 Februarie tydens sy vorige hofverskyning op borgtog van R5 000 vrygelaat.

In ’n beëdigde verklaring wat tydens sy borgtogaansoek voorgelê is, het Meekahefele gesê die motorfietsryer, Douglas Pearce, het hom op Malibongwe-rylaan in Randburg gekonfronteer.

“Hy het vir my geskree en die middelvinger gewys... Ek weet nie hoekom hy dit gedoen het nie.”

Douglas het toe stilgehou en ’n vuurwapen op hom gerig.

Meekahefele het gesê hy het toe besef hy is in gevaar en het ’n vuurwapen uitgehaal om homself te verdedig.

“Ek het geen bedoeling gehad om hom dood te maak nie. Ek besef hoe ernstig die oortreding is, maar ek het binne die reg opgetree,” het hy gesê.

Ná die skietery het Meekahefele vir die polisie gewag en sy vuurwapen oorgehandig.

Hy is tydens die voorval beseer.

- Sapa