“Die nasionale regering en die polisie het versoek dat ’n aantal paaie, meestal in die sakekern, vir ’n verlengde tyd gesluit word, van 06:00 op Dinsdag, om vir die staatsrede voorsiening te maak,” het ’n verklaring Dinsdag gelui.

“Van die padsluitings in die sakekern sal ook op die aande van Dinsdag 7 Februarie en Woensdag 8 Februarie geld wanneer repetisies vir die geleentheid van 17:00 gehou word.”

Die padsluitings sal die normale verkeersvloei in en om die stadskern, Nuweland en die M3- en N2-bane stad toe raak, lui die verklaring.

Padgebruikers word gevra om hul roetes dienooreenkomstig te beplan.

“Die M5 sal die beste keuse wees as ’n alternatiewe roete,” lui dit verder. Gebruikers word ook vir hul begrip bedank.

Klik hier vir 'n gedetailleerde uiteensetting van roetes wat gesluit sal wees.

Betogings

Twee betogings word vir Donderdag in Kaapstad se sakekern tydens Zuma se toespraak beplan.

Die South African Unintegrated Forces United Front sal ’n byeenkoms vir 100 deelnemers op die Parade hou, het Priya Reddy, woordvoerder van die stad, aan News24 gesê.

Hulle het toestemming om tussen 17:00 en 21:00 te vergader.

Die metaalwerkersvakbond Numsa het ook aansoek gedoen vir ’n betogingspermit vir 500 mense. Hul aansoek is nog nie bevestig nie.

Die African National Congress sal intussen van 17:00 ’n massabyeenkoms op die Parade vir sowat 10 000 ANC-ondersteuners hou.

Pres. Jacob Zuma sal na verwagting die byeenkoms net ná sy Staatsrede bywoon om “radikale ekonomiese transformasie” met ondersteuners van die party te bespreek.

Bron: News24