madiba

Privaat motors gaan verbode wees naby die FNB-stadion waar die gedenkdiens vir oudpres. Nelson Mandela Dinsdag gehou word nie, sê Johannesburg se metropolisie.

Supt. Wayne Minnaar sê paaie naby die stadion sal van Maandag middernag gesluit wees. Die paaie wat hierdeur geraak word, sluit in Nasrecweg, Sowetohoofweg en Rand Show-weg. “Ons moedig mense aan om openbare vervoer te gebruik,” sê Wayne.

Treine sal van vyfuur die oggend af van Vereeniging, Naledi, Leralla in Tembisa, Daveyton, Khwezi in Soweto en Springs af vertrek. “Daar sal busse van Soweto af wees en ook Gautrain-busse vanaf die Rosebank- en Sandton-stasies wat hooggeplaastes na die Wanderers-parkeer-en-ry-gerief sal bring. Daar sal ook ’n parkeer-en-ry-gerief vanaf Constitution Hill in Braamfontein, Westgate, Gold Reef City, Wits-universiteit, die Metro-sentrum in Braamfontein en Thuso House in Braamfontein wees,” sê Wayne.

Die paaie sal ná die gedenkdiens heropen word. - Sapa