Een vraag wat waarskynlik reeds die afgelope paar dae op talle se lippe huiwer: Wat is die weervooruitsigte vir die naweek?

Huisgenoot het gaan aanklop by Annette Venter, meteoroloog vir eNuus, sodat jy weet wat om te pak en wat om tuis te los.

Sy het goeie nuus vir diegene wat uitsien na koeler weer en slegte nuus as jy op die strand wou gaan lê.

Koel, bewolkte en nat weer – dis wat in hierdie stadium wat vir jou voorlê.

Woensdag

Daar gaan ’n sterkkoue front wees wat reeds die suidwestelike dele van die land na truie en baadjies gaan laat gryp. Maar daar’s goeie nuus! Dit bring reën wat deur die nag en waarskynlik tot Donderdag oor dele van die Wes-Kaap gaan uitsak.

 
 

Donderdag

En dan word dit nog koeler . . . Bewolkte toestande word ook in die Wes- en Oos-Kaap voorspel. Gooi maar stewig anker, want sterk winde word aan die Suidkus verwag.

 
 

Dan kies die kouefront binneland toe koers. As jy jouself in die oostelike dele van die Noord-Kaap, Vrystaat, Noordwes, Gauteng en die binnelandse gedeelte van die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal bevind, kan jy digte wolke en vogtigheid verwag.

Vrydag

Hou maar warm klere byderhand vir Vrydag. Die kouefront gaan landwyd vir oorwegend bewolkte, koel en nat toestande sorg. Daar kan selfs Vrydagoggend ligte buie langs die Suidkus verwag word. Temperature sal oorwegend rondom 20°C kuier.

Volgens Annette gaan die binneland van die Wes-Kaap koel wees, maar die son sal wel weer uitloer.

Stormagtige en bewolkte toestande word Vrydag vir die noordoostelike dele van die land voorspel. Terselfdertyd kan die Bosveld, Gauteng, Hoëveld en gedeeltes van die Laeveld ook stewige reënbuie verwag.

 
 

Wees voorbereid op temperature wat steeds net kort bó en onder 20°C gaan kuier. In Gauteng kan Johannesburg 19°C en Pretoria 22°C verwag.

Saterdag

Die kouefront stoom steeds Saterdag voort met koue en bewolkte toestande vir die oostelike dele van die land.

 
 

Dit lyk asof temperature in Gauteng, Limpopo en Mpumalanga steeds rondom 20°C gaan bly. In die noordooste mag daar dalk ’n paar onverwagte reënbuie uitsak.

Kapenaars en besoekers aan Kaapstad gaan gewis uitsien na sonnige en warmer weer wanneer die kwik in die Moederstad by 26°C gaan draai.

Sondag

sunday

Die meeste van die reën sal oor die binneland opklaar en vir ’n bonus gaan die kwik in Kaapstad na 31°C opgejaag word.

Die oostelike gedeeltes van die land sal beslis die fris herfsluggie ervaar met bewolkte toestande en temperature net bo 20°C. Hou maar ’n sambreel byderhand vir die moontlikheid van meer ligte reënbuie.

ctx0417_2725_eastercampaign_600x450_digitorial_huisegenoot