’n Egpaar wat bedrog van R279 miljoen gepleeg het, is hierdie week in die Thembalethu-streekhof in George skuldig bevind. Graeme en Carolina Minne, van Pinnacle Point, Mosselbaai, het tereggestaan op 18 klagte van bedrog en diefstal. Landdros Denise Oberholzer het hulle Dinsdag skuldig bevind.

Die Minnes het aan beleggers voorgegee dat hulle suksesvolle handelsbetrekkinge met meer as 500 internasionale beleggers op die internasionale mark het. Nagenoeg 923 beleggers – van Mosselbaai tot so ver as Kempton Park, het die aas gevat.

Beloftes van vier persent rente maandeliks en soveel as 65 persent jaarliks is aan die beleggers gemaak.

Daar het dadels van gekom, maar die Minnes het voortgegaan om die beleggers se geld in te win al het hulle in sewe jaar net een skrale wins gemaak. 

Hulle is aanvanklik op borgtog van R50 000 elk vrygelaat nadat hulle op 30 Augustus 2011 in die Mosselbaaise hof op aanklagte van bedrog van R279 miljoen verskyn het.

Die saak is meer as 20 keer uitgestel voor hul verhoor in Junie 2016 begin het.

Vonnisoplegging sal op 21 September plaasvind.

Bronne: algoafm.co.za, mosselbayadvertiser.com, iol.co.za, news24.com