Die Singapoerse paartjie Lim Choon Hong en sy vrou, Chong Siu Foon, gaan onderskeidelik drie weke en drie maande lank self gewigsverlies ervaar – agter tralies.

Gerugte dui daarop dat talle inwoners van Singapoer van inslaap-huiswerkers uit naburige lande gebruik maak. Dié werkers word gereeld uitgebuit en misbruik.

Thelma, afkomstig van die Filippyne, het net 29 kg geweeg toe sy in April 2014 van haar werkgewers kon vlug en ’n vriendin van ’n telefoonhokkie kon bel om hulp te vra. Sy is daarna na HOME, ’n werkershulpverleningsorganisasie vir migrante, geneem.

Sy het Maandag in die hof getuig sy is twee keer ’n dag van geringe porsies kos, bestaande uit noedels en brood, voorsien. Enige versoeke vir meer kos is geweier.

Die rede vir die porsies wat aan Thelma beskikbaar gestel is, was glo omdat dit nie die huis sou “vuil” maak nie, dit vinnig geëet kon word en Thelma in staat sou stel om meer tyd te hê vir haar werk. Sy moes in ’n stoorkamer slaap en kon slegs een keer per week stort, soms twee keer. Thelma moes toestemming vra voor sy water kon drink en was nie toegelaat om die toilet in die huis in Cuscaden Walk te gebruik nie. Chong sou haar glo dophou terwyl sy stort. Haar paspoort en selfoon is deur haar werkgewers gekonfiskeer.

Haar werknemers beweer hulle het haar behandel soos hulle hulself sou behandel. Hulle sou ook ongereeld eet en stort omdat Chong glo ’n obsessie rondom kos en huisskoonmaak het. Chong is volgens psigiatriese verslae obsessief-kompulsief en ly aan anoreksie.

Volgens dieselfde verslag sou Chong ten spyte van haar anoreksie, glo haar man en haar vier kinders dwing om te eet.

Die staat het egter aangedui dat die paartjie se porsies aansienlik groter was en ook van ’n beter gehalte.

Lim, ’n finansiële makelaar, gaan drie weke in die tronk deurbring. Sy beursie gaan ook effens ligter word danksy ’n boete van sowat R93 000. Chong sal drie maande lank aan haar tronkdieet gewoond moet raak.

Thelma het wel vergoeding van R186 000 ontvang, maar die regter het tydens vonnisoplegging sy kommer uitgespreek of die bedrag, ongeag of dit R1 of miljoene rande sou wees, wel ’n teken van werklike berou sou wees of eerder ’n manier is waarop die paartjie ’n ligter vonnis wou bewimpel.

Die ministerie van mannekrag het die paartjie nou permanent verbied om enige buitelandse werknemers in diens te neem.

Die ministerie se riglyne vir voldoende kos vir werknemers behels onder meer die volgende: Drie etes daagliks wat bestaan uit vier snye brood met ’n smeer vir ontbyt, ’n bakkie rys met ’n driekwart-koppie gekookte groente, ’n palmgrootte hoeveelheid vleis en vrugte vir middag- en aandete.

Hul verblyf moet ook van ’n “aanvaarbare” standaard wees en mediese behandeling moet aan huiswerkers beskikbaar gestel word.