William (93) en Lillian (89) Wilson, van Lexington in Kentucky, het op hoërskool ontmoet en aan die begin van die Tweede Wêreldoorlog verlief geraak. “Hy het by die weermag aangesluit; hulle het weggeloop en besluit om te trou,” het Doug Wilson (66), die paartjie se seun, gesê.
'Mense was baie lief vir hulle as ’n paartjie. Waar hulle ook al gegaan het, het hulle baie vriende gemaak.'

Doug het op 7 April in die middel van die nag ’n oproep van die Thomas Hood-sentrum vir oudstryders ontvang dat sy pa oorlede is. ’n Paar minute later het hy ’n oproep ontvang van die Richmond Place-aftreeoord dat sy ma ook gesterf het. Albei het Alzheimersiekte gehad.

“Ek het vir die verpleegster gesê: ‘Jy gaan dit nie glo nie, maar my pa is so ’n paar minute gelede oorlede,’” het Doug aan die Lexington Herald-Leader gesê. “Sy sê toe dis nes in The Notebook. Dit het my geskok en ek was vir ’n rukkie verslae. Ek het nie geweet wat om te doen nie.”

Ná ’n rukkie het Doug besef hoe gelukkig hy is dat hy sy ouers se liefdesverhaal kon beleef. “Mense was baie lief vir hulle as ’n paartjie. Waar hulle ook al gegaan het, het hulle baie vriende gemaak.”

Bronne: huffingtonpost.com, today.com, elitedaily.com