Ons almal was al in so situasie. Jy word voorgestel aan iemand, maar die oomblik dat jy die ander mens se naam hoor, klink dit net te vreemd om waar te wees.

Jy vra weer en herhaal dit en wanneer jy besef jy het inderdaad reg gehoor, verg dit alles om nie jou mond te laat oophang van verbasing nie.

Vreemde babaname is iets waarmee baie mense al geëksperimenteer het en nou lyk dit asof heelparty spyt is daaroor. Soos Lindsey Briston van Engeland wie se seun Jedaih heet.

Die blondekop woelwater het die naam gekry omdat sy pa, Josh, versot was op die rolprentreeks Star Wars waarin die ridders Jedi’s genoem word.

Maar deesdae noem sy hom net Jed omdat sy bang is wat ander sal dink as hulle sy regte naam hoor.

’n Opname deur die webtuiste Mumsnet.com het onlangs getoon ’n vyfde van ouers is spyt oor die naam wat hulle vir hul kind gekies het. Die redes hiervoor sluit hoofsaaklik in dat dit later net nie “reg voel” nie, dat hulle gedruk gevoel het om die naam te kies en dat dit nie uniek genoeg is nie.

Lindsey het vir die Daily Mail vertel toe haar seun in Februarie 2009 gebore is, was Josh onwrikbaar in die keuse van die naam en selfs voor sy ingestem het, het hy die kind so aan ander voorgestel. “Drie weke ná sy geboorte het ek hom as Jedaih geregistreer. Ek was te moeg om weerstand te bied.”

Lindsey sê al is Jedaih ’n Star Wars-aanhanger wil hy ook graag by sy vriende inpas. Hy het ’n ruk gelede by die huis gekom en vir sy ma gesê hy wil ’n normale naam hê -- sy moet hom Steven noem.

Die gier om kinders vreemde name te gee is nie nuut nie en dit is veral bekendes wat nog nooit bang was vir die sosiale eksperiment nie.

Ons het ’n paar voorbeelde gaan opdiep:

? Die aktrise Gwyneth Paltrow en die sanger Chris Martin se dogtertjie se naam is Apple (12).

? Die akteurs Courteney Cox en David Arquette se dogtertjie is Coco (12).

? Die akteur Sylvester Stallone se seun se naam was Sage Moonblood (36 met sy dood).

? Angelina Jolie se aangenome seun is Maddox Chivan (16).

? Bono en Ali Hewson se dogter is Memphis Eve (25).

? Michael Jackson se seun Prince Michael II/Blanket (14).

? Victoria and David Beckham se dogtertjie is Harper Seven (5).

? Die akteur Jason Lee en Beth Riesgraf se seun is Pilot Inspektor (13).

? Jermaine Jackson en Alejandra Genevieve Oaziaza se seun is Jermajesty (16).

? Die Antwoord se Ninja en Yo-Landi Visser se dogter is Sixteen (11).