Dit was so hittete of Stephanie Tallent en Jason Nese (albei 41) se baba is buite die eg gebore.

Toe Stephanie, wat agt maande swanger was, Vrydag vir ’n sonar gaan, het sy skielik voortydig begin kraam.

Die paartjie van Houston in die Amerikaanse deelstaat Texas besluit toe net daar: nou trou ons, voor hierdie baba haar opwagting maak. Gelukkig het die twee toevallig net die dag tevore ’n troulisensie by die plaaslike landdroskantoor gekry.

Jason het dit in hul motor gaan haal, sowel as ’n wit rok wat Stephanie eintlik later die dag na die droogskoonmaker wou neem. ’n Kapelaan is ontbied en met ’n paar dokters en verpleegsters daar, was die gastelys volledig.

Kort ná die seremonie is Stephanie vir ’n keisersnee voorberei, en hul babadogter, Sophia, het ’n paar uur later haar opwagting gemaak.

“Ons het daaroor gepraat. Dit was vir ons belangrik om te trou voor sy gebore word,” het Stephanie ná die tyd vertel.

Die bruid en die bruidegom is dit eens dat dit die beste dag van hul lewens was. Stephanie en Sophia is Maandag uit die hospitaal ontslaan.

Ons twyfel egter of Stephanie en Jason binnekort op ’n wittebrood vertrek.

Gaan loer hier vir nog foto's.

Bronne: Daily Mail, Yahoo News