Wel, een paartjie gee ons hoop dat ware liefde inderdaad bestaan. Ollie en Donald King is al amper sewe dekades getroud, en hulle is nog net so verlief soos die dag toe hulle mekaar die eerste keer in die oë gekyk het. 

Die paartjie het besluit om hul 68ste huweliksherdenking in September met ’n fotosessie te vier. 

“Daar was tye in my loopbaan dat ek ná ’n sessie gedink het: ‘Sjoe, ek’s regtig mal oor my werk.’ En dit was een van daardie aande,” het die fotograaf Paige Franklin van Paige Franklin Photography ná die fotosessie op Facebook geskryf.

Paige het die liefdevolle blikke, opregte glimlagte en warm omhelsings tussen Ollie (83) en Donald (87) vasgevang.

Die Kings het drie kinders en woon die afgelope 30 jaar op hul plaas in Kentucky, Amerika, waar hulle mielies, sojabone en tabak kweek.

“Hulle is so vol lewenslus en gelukkig soos hulle waarskynlik nog altyd was. Ek hoop en bid my huwelik sal nes hulle s’n die toets van die tyd deurstaan,” het Paige gesê.

Donald is al 47 jaar ’n pastoor en Ollie het langer as drie dekades kwiltwerk gedoen. 

Toe hy gevra is wat hom trots maak daarvan om met Ollie getroud te wees, het Donald nie woorde gehad nie, het Paige vertel.

“Ek het Donald gevra om my te sê wat die een ding is wat hom veral trots maak op haar. Hy het ’n oomblik lank na my gekyk, toe na haar en gesê: ‘Daar is regtig nie net een ding nie. Sy is net ongelooflik.’” 

Te dierbaar vir woorde!

Bronne: Metro, Facebook