Het jy kleintyd daarvan gedroom jy sou eendag die pot goud aan die einde van die reënboog ontdek? Of het jy speel-speel “opgrawings” in jou ouers se tuin gedoen in die hoop dat jy op ’n skatkis vol juwele sou afkom?

Vir ’n paartjie in die goudstreek van Sierra Nevada in die VSA het dié droom waar geword.

Dié Kaliforniese egpaar het met hul hond gaan stap toe hulle ’n horde goue munte opgrawe wat volgens kenners meer as R110 miljoen werd is.

Die sogenaamde Saddle Ridge-ontdekking is glo die waardevolste vonds in die VSA tot dusver, volgens Kagin’s Inc, wat in ou goue munte spesialiseer.

Die paartjie, wat net as John en Mary bekend is, het ’n geroeste blikkie gewaar wat effens bo die grond uitgesteek het. Nadat hulle ’n bietjie dieper gegrawe het, het hulle op nog sewe blikke afgekom wat altesaam 1 427 goue munte bevat het.

“Hierdie gesin het letterlik die pot goud aan die einde van die reënboog ontdek,” sê Donald Kagin, ’n munthandelaar. Die meeste van die munte dateer van die laat 19de eeu.

“Dié ontdekking is so uniek omdat dit, anders as ander gevonde skatte, uit munte met ’n groot verskeidenheid datums bestaan. Baie daarvan is nog in ’n uitstekende toestand,” sê hy.

Die Saddle Ridge-skat is genoem na ’n eienskap op die paartjie se eiendom in Noord-Kalifornië, wat bekend is vir begraafde skatte sedert die goudstormloop in die 19de eeu.

Die paartjie het hul hond vir sy daaglikse wandeling geneem toe hulle die eerste blikkie ontdek.

“Ek het ’n ou blikkie by die grond sien uitsteek op ’n wandelpaadjie waarlangs ons al jare lank byna daagliks gaan stap,” vertel John. Hy het ’n stok gebruik om dit uit die grond te krap.

Hulle het die blikkie teruggedra huis toe, al was dit nogal swaar.

“Ek het vir Mary gesê: Sjoe! hierdie ding is swaar. Dis seker vol loodverf.

“Ek kon nie dink wat so swaar kon wees nie,” sê John.

Net toe het “die deksel afgebreek en die rand van ’n goue munt blootgestel,” sê hy. “Ek het die deksel weer toegemaak; ek het afgekom op ’n blik vol goue munte en het nie gedink Mary sou my glo nie.

“Toe ek haar vertel, was sy geskok; haar mond het so groot oopgehang dat vlieë by haar mond sou kon in- en uitvlieg.”

Mary sê: “Ek sou nooit kon raai hy sou so iets ontdek nie. Maar in ’n vreemde sin voel dit asof ek my al lank daarop voorberei.”

Die paartjie (so om en by 40) het besluit hulle wil eers naamloos bly.

“Nes baie ander mense, word ons deur geldelike uitdagings in die gesig gestaar. Ek is baie dankbaar dat ons dié besittings kan hou,” sê John.

“Ons is dieselfde mense as voor ons die goud ontdek het, ons het nou net meer vryheid,” sê Mary.

“Ons geldsake hoef nie meer so baie van ons alledaagse keuses te bepaal nie. Ons gebedsverhoring was toe die hele tyd reg onder ons neus. Moenie dink jy is te goed om ’n geroeste blik op te tel nie!” - Sapa

Nou wonder ons: Sal dié paartjie kan help om die vermiste Krugermiljoene op te spoor?