’n Britse man en vrou met ’n voorliefde vir kitskos het R2 260 opgedok om hul huweliksonthaal by McDonald’s te hou.

Steven en Emily Asher het hul 33 gaste op burgers en melkskommels trakteer in ’n deel van ’n McDonald’s in Bristol in die suidweste van Engeland wat met tou afgeskort was.

Die paartjie het met ’n lang, slap motor by die restaurant aangekom. Die restaurant se bestuurder het hulle met ’n bottel sjampanje bederf, maar hulle kon dit nie op die perseel drink nie weens ’n verbod op drank.

Die twee het verloof geraak nadat hulle ’n hele paar keer saam gaan burgers eet het. Met die onthaal het verbygangers hulle verkyk aan die pasgetroudes en hul gaste, wat nog in hul trouklere uitgevat was.

Steven het gesê: “Toe ek Emily die eerste keer in haar rok sien, kon ek my oë nie glo nie. Sy het absoluut pragtig gelyk.

“Ons het albei regdeur die plegtigheid gebewe van die senuwees. Maar dit was ’n wonderlike dag en dit het gelyk of almal ons onthaal by McDonald’s baie interessant gevind het. Almal het dit geniet. Almal is mos mal oor McDonald’s, of hoe?”