Lee Soon-kyu (85) van Suid-Korea en Oh In-se (83) van Noord-Korea was slegs sewe maande getroud toe die gevegte in Korea hulle van mekaar geskei het. Boonop was Lee destyds vyf maande swanger.

"Ek het hom in my drome gesien," het Lee aan die nuusagentskap YonHap in Suid-Korea gesê.

"Hy was altyd in my hart. Ek kon niemand daarvan vertel nie want dit sou niks vir my oplos nie. Ek was seker hy is gevange geneem en in dwangarbeid geplaas. Ek wil vir hom sê dat ek dankbaar is dat hy nog lewe ná al daardie pynlike dae.”

Hul seun, Jang-gyun Oh het uiteindelik dekades later sy vader ontmoet en hom omhels.

"Ek wil baie graag die woord ‘vader’ hardop sê,” het hy gesê.

"Ek het hom my hele lewe lank gemis.”

Volgens sommige berigte wou Jang-gyun ook hê sy pa moes sy ma se hand vat en om verskoning vra vir die jare wat sy sonder hom moes klaarkom.

Oh kon met 'n nuwe gesin begin in Noord-Korea, maar dinge was nie maklik vir sy ma as enkelouer nie, vertel Jang-gyun. Sy moes bedags op 'n plaas werk en saans moes sy klere maak.

Die Rooikruis in Suid-Korea het die kortstondige weersiens gereël. Hulle reël tussen-Koreaanse herontmoetings vir van die miljoene mense wat destyds deur die oorlog in Korea van mekaar geskei is.

Bronne: elitedaily.com, huffingtonpost.com