Wolfram Gottschalk (83) en sy vrou, Anita (81), van Surrey in die Kanadese provinsie Brits-Columbië is reeds die afgelope 62 jaar getroud.

Maar toe gryp die noodlot in. Wolfram se gesondheid gaan so erg agteruit dat sy bejaarde vrou hom nie meer alleen kan versorg nie.

Asof dié trauma nie erg genoeg was nie, is die paartjie ná meer as ses dekades van saamwees geskei toe hulle, ten spyte van moedige pogings van hul familie se kant, in twee afsonderlike versorgingsoorde geplaas is.

Luidens berigte was daar nie voldoende ruimte om die egpaar saam te huisves nie; vandaar die besluit om hulle apart op te neem.

In die daaropvolgende vier maande het familielede so gereeld moontlik vir Anita vir die halfuur lange rit geneem om haar geliefde Wolfram te sien. En elke afskeid ná elke besoek was hartverskeurend.

Anita het ook die feit betreur dat sy nie snags haar man kon nagsê nie, soos hul jare lange gewoonte was.

Een van hul kleindogters, Ashley Bartyik, se grootste wens was om hulle net weer saam te sien.

"Hulle is die steunpilaar van ons familie," het sy gesê. Ná Anita se besoek aan Wolfram het sy 'n foto van die paartjie geneem; een wat sy as die hartseerste foto bestempel wat sy al geneem het.

Op dié foto kan duidelik gesien word hoe die trane loop toe dit tyd word om te groet.

afskeid

Dit het nie lank geduur voor die internetwêreld kennis geneem het van die paartjie se smart nie. Dit het wyd versprei en selfs landsgrense oorgesteek.

Meer as agt maande nadat Anita en Wolfram geskei is, was daar goeie nuus: Morgan Heights (waar Anita woon) het nou ook plek vir Wolfram!

Donderdag, 22 September 2016, maak Ashley die volgende inskrywing op haar Facebook-blad: "Vandag het ons gesin met blydskap Wolfram en Anita Gottschalk se hereniging aanskou."

Sy het ook melding gemaak van die trane wat vryelik gevloei het, maar dit was van vreugde.

"Hulle sal nou vir die res van sy of haar lewe onder dieselfde dak kan woon. En ons kon nie meer dankbaar wees nie."

Hier is die roerende oomblik toe Anita vir Wolfram in sy nuwe tuiste verwelkom.

Bronne: snip.ly, breakingnews.ie, uk.news.yahoo.com