Wel, hierdie twee het duidelik baie gemeen.

Quentin Dehar (23) en Anastasia Reskoss (20) is so behep met Barbie en Ken dat hulle miljoene aan plastiese snykunde uitgegee het om soos hulle te lyk.

Die Franse geliefdes het sowat R4,4 miljoen geblaas op borsinplantings, vier neusoperasies, lipinspuitings, boudinplantings, wangvullers, oorhervorming, Botox, oogsakkieverwydering, verbruining, tande witmaak, naelverlengings en tandoplegsels, volgens die NY Daily News. Dalk verstommender nog is dat die twee, wat mekaar twee jaar gelede op ’n partytjie op ’n jag ontmoet het, se ouers vir al die operasies opgedok het. “Toe ek Quentin die eerste keer sien, het ek geweet ek het die liefde van my lewe gevind,” sê Anastasia, ’n student. “Ons was op ’n bootpartytjie in Saint Tropez en Quentin het na my toe gestap en gesê: ‘Ek het die Barbie vir my Ken gevind.’ ” Daarby probeer hulle hul bes om so glansryk soos die speelpoppe te leef.

Quentin het ’n Porsche Cayman-afslaankapmotor aangeskaf en weelderige vakansies gereël en Anastasia besit meer as ’n dosyn Hermes Birkin-handsakke.

“Plastiese snykunde is ons passie. Ons wil die res van ons lewe saam deurbring terwyl ons verander in die poppe waarvoor ons lief is,” sê Quentin.

Om hul gedaantewisseling af te rond verander Quentin en Anastasia nou hul naam na Ken en Doll.

Bronne: News.com.au, NY Daily News