Thomas (95) en Thelma (94) Knight, ’n Australiese paartjie, het mekaar jare gelede as tieners ontmoet en het op Valentynsdag hul 75ste huweliksherdenking gevier.

Volgens Adelaide Now het die twee mekaar heel toevallig in die strate van die woonbuurt Goodwood in Adelaide ontmoet. Hulle was albei daardie aand saam met vriende uit en het mekaar raakgeloop toe Thelma en ’n vriendin by ander vriend wou gaan kuier. Die vriende was nie tuis nie, toe begin twee seuns met die meisies gesels.

Thomas het meer as 4 km saam met Thelma huis toe gestap en die twee het onophoudelik gesels.

Die paartjie het eindelik vier jaar uitgegaan en eindelik in 1942 by die Metodistekerk Colonel Light Gardens getrou.

Die troue was beskeie, want Thomas moes kort daarna weens die Tweede Wêreldoorlog in Papoea-Nieu-Guinee gaan veg. Hy het net vier dae verlof gekry en moes daarna sy liefling groet.

“Ek het aaklig gevoel en gedink ek gaan haar seker nooit weer sien nie,” vertel Thomas.

Die egpaar is wel later herenig en het vandag twee kinders, vier kleinkinders en vyf agterkleinkinders.

En wat meen Tom is die resep vir ’n huwelik wat so lank hou?

“In die eerste plek moet julle vir mekaar lief wees. Julle moet jul verskille aanvaar sonder om ontsteld te raak daaroor.” Hulle glo ook daarin om mekaar altyd by te staan wanneer die een deur ’n moeilike tyd gaan en as gesin baie tyd saam deur te bring. Hulle gee ook nie om om mekaar tegemoet te kom en kompromieë aan te gaan wanneer dit nodig is nie. ’n Ander paartjie van Nottingham in Engeland het ook hul 75ste huweliksherdenking op Valentynsdag gevier, berig die Nottingham Post. Dennis (94) en Alice (95) Quinton het mekaar vir twee jaar ná hul troue nie gesien nie omdat Dennis in die Tweede Wêreldoorlog moes veg. Hulle het egter aangehou om vir mekaar briewe te skryf en lojaal gebly.

“As ’n mens vir liefde trou, dan bly jy verlief,” is Dennis se raad.

Die paartjie het mekaar in die Sondagskoolklas ontmoet toe hulle onderskeidelik 17 en 18 jaar oud was.

Bill en Mary Walter van Medford in Amerika is al 80 jaar lank ’n paartjie en het Dinsdag hul 76ste huweliksherdenking gevier.

Volgens Mary is hul geheim om mekaar se foute mis te kyk en net aan te hou om vir mekaar lief te wees, berig News10.

Bill meen hulle het nooit baie geargumenteer nie, maar wanneer hulle het, het Mary meestal gewen.

Dis die maand van liefde! Het jy 'n hartroerende liefdesverhaal? Stuur jou storie na web@huisgenoot.com.